La Rochelle Yearbook 2025

ONTLUIKENDE SKRYWERS

Kinderdrome Ek het in my kinderjare vas geglo dat die grootmenswêreld baie maklik gaan wees. Ek gaan my eie salaris verdien, suksesvol wees, in ’n groot huis bly en ’n gelukkige huwelik met twee kinders en ’n hond hê. Dit was die droom, maar soos ek ouer geword het, het ek besef dat die grootmenswêreld nie so maklik is nie en dat hierdie droom vir baie mense nie ’n realiteit is nie. Ek staan aan die einde van my graad 12-jaar – op die rand om die grootmenswêreld te betree en ek is hierdie jaar aan so baie verantwoordelikheid blootgestel wat nie eers ’n kwart van die verantwoordelikheid is wat ’n volwassene ervaar nie. Ek was blootgestel aan so baie teleurstelling wat ek nie eers altyd kon hanteer nie – wat my laat wonder het hoe my ouers teleurstelling so goed hanteer en dan steeds die volgende dag opstaan en die dag met ’n glimlag op hul gesigte aanpak. Vroeër hierdie jaar moes ek aansoek doen vir universiteit – iets wat glad nie deel gevorm het van my kinderjaredrome nie. In daardie proses moes ek skielik weet wat ek in die toekoms wou doen en ek moes my hart voorberei vir die ergste – net vir ingeval ek nie by my “droomuniversiteit” aanvaar word nie. Jare later, na baie lang trane en nog meer gesprekke met my ouers oor hoe ek volgende jaar gaan aanpak, met soveel verantwoordelikheid en teleurstelling van alle rigtings af, was hulle woorde aan my: “Moenie bekommer nie, my kind. Die Here het ’n plan vir elkeen van Sy kinders – al is dit nie altyd wat ons as klein kinders hoop en glo nie.” Daardie woorde het soos ’n golf van kalmte oor my gespoel en ek klou daagliks daaraan vas. Ek het besef soms is dit wat jy as kind vir jou lewe beplan nie altyd realisties nie, maar dit beteken nie dat dit nie ’n realiteit kan word nie. Ongelukkig is hoe ons daarby uitkom nie altyd maklik nie, maar dit is juis daardie proses waar ons leer hoe om sterk volwassenes te word wat enige verantwoordelikheid, teleurstelling of druk kan hanteer. Ek gebruik dus daardie droom as motivering om hard te werk sodat ek eendag ’n goeie beroep kan hê. Ek moes ook vrede daarmee maak dat as ’n gesonde huwelik met twee kinders en ’n hond nie die Here se plan vir my is nie, dan is dit so. Hoe my lewe uitdraai is dan Sy plan vir my. Daar gaan nog baie onsekerheid, teleurstelling en verantwoordelikheid oor my pad kom, maar ek sal dit met altwee hande vasvat en aanpak. Vir nou fokus ek op die nóú. Ek koester die laaste paar maande op skool, saam met my ouers en die kort tydjie wat ek nog net kind kan wees. Ek het in my kinderjare vas geglo dat die grootmenswêreld maklik gaan wees, maar 14 jaar later besef ek dit is eintlik maar net wat jy daarvan gaan maak. Zhete Morrie Gr.12 Afrikaans Huistaal

44 | Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School

Made with FlippingBook - Online catalogs