La Rochelle Yearbook 2024

TOERE – ORANJERIVIER

ORANJE RIVIER

Die tweede dag was ons verlig om te hoor dat ons nie so ver gaan roei nie – net so 5.6 km. Ons het redelik “the hang of it” gehad en na die flapjacks vir ontbyt was ons oortuig dat ons enigiets kan aanpak. Ons het tyd gemaak vir ’n staptog na die droë valle toe en het toe vroeg by die kamp aangekom. Ons het volleyball gespeel en omtrent 20km tussen die doringbosse ingestap om badkamer toe te gaan. Na almal die eerste aand baie ongemaklik geslaap het, het hulle my en Káru se raad gevolg en soos sardientjies in die bootjies geslaap. Die derde dag was ons vroeg wakker gemaak met die nuus dat ons ekstra hard sal moet roei, want ons gaan nie meer Maandagoggend roei nie. Ons moes vinnig ons bootjies pak en seker maak ons is reg vir die twee groot rapids wat op ons wag – Rattlesnake en Big Daddy . Juffrou M’lani en Ankia het ons gewys dat die enigste manier om suksesvol by ’n rapid af te gaan, is agteruit en Foenix het ons geleer dat as jou bootjie omdop los alles en swem agter jou Coke aan. Ons het ons laaste middagete op die Namibiese oewer geniet toe ons verbaas was om te sien dat Oakdale kort op ons hakke is. Ons het vinnig opgepak en die laaste ent aangepak -wat net so 5,6 km was. Ons het in ons floaties by die rivier afgedryf en seker gemaak om almal se roeispane te steel. Ek dink juffrou Malan het ’n “bicep pump” nadat sy haar bootjie die heel pad moes stoot. Ilke, Mieke en Mia het solank begin oefen vir Afrikaans op die platteland met al die liedjies wat hulle die laaste stuk gesing het. Onseepkans was binne sig en ek dink ons almal was ewe verlig om warm water en badkamers te sien. Die busrit terug was lank en warm, maar dit was kosbaar om te sien hoe almal lag met hul nuwe vriendinne oor alles wat gebeur het die afgelope drie dae. Vreemdelinge het vriende geraak en dit was vir seker 108 ure wat ek vir niks anders in die wêreld sal verruil nie. Ek het net een vragie vir juffrou Malan. Is juffrou reg vir rondte twee? Tinette le Roux

Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School | 149

Made with FlippingBook - Online catalogs