La Rochelle Yearbook 2023
Hostel Headgirl
message
Ek glo dat ’n koshuis, en veral La Rochelle s’n, die hartklop van die skool is. Sowat twee-honderd Larries stap elke dag deur die gange van ons 88-jarige spogkoshuis. Deur L iefde, A anvaarding en R espek slaag ons daarin om ’n veilige hawe vir elke dogter te skep, waar sy kan blom in die Larrie-familie. Ons koshuis-slagspreuk van hierdie jaar was “ Different flowers , same garden ”. Hier is ’n plekkie vir elkeen om te groei, te droom, hulle talente uit te leef en hulle uniekheid te koester. La Rochelle is ’n tradisieryke skool en daarom verseker dit dat elke jaar gevul is met vele hoogtepunte – lees gerus Anerine se opsomming van die gebeurlikhede wat gesorg het vir hope pret, goeie gees en kosbare herinneringe. Hierdie geleenthede bring ons almal bymekaar en herinner ons net weer aan die spesiale band wat ons het. Ons het hierdie jaar ’n groot groep van 51 Daisies in die koshuis verwelkom en hulle het sommer gou-gou hulle voete gevind! Hulle energie, positiewe gesindheid en entoesiasme was aansteeklik. Dankie aan Vlokkie en Kalfie, en elke ander Daisy wat haar Milady se matriekjaar só spesiaal gemaak het. Ons gaan verskriklik baie na julle verlang! Ek moet sê, ek kon dit soms nie oor my hart kry om vir ’n stout graad 8 debiete te gee vir raas in die gange nie! Daar is ’n tyd vir studie en stilte, maar wanneer ek die Larries hoor lag, weet ek hulle is gelukkig. Ek glo dit is nie net La Rochelle se koshuisgebou of -fasiliteite wat die plek maak wat dit is nie, maar dit is die mense wat daar werk wat die verskil maak. Dankie aan juffroue Adéle Bothma en Sonnet Vorster vir julle mentorskap en ondersteuning deur die jaar. Ons het ook groot waardering vir tannies Lida, Wyna, Christa, Christel en Toekie vir al hulle harde werk om dinge in die koshuis glad te laat verloop en elke drukkie op die dae wat die trane vlak gelê het. Dankie oom Brittle, tannie Lindsey en al die kombuistannies vir julle vriendelike glimlagte en lekker kos wat enige dag kon opkikker. Ek dink nie ek kon vir ’n beter span koshuisprefekte gevra het nie. ’n Blink toekoms wag op hierdie hardwerkende, gedrewe groep jong dames. My familie het my altyd gespot deur te sê ek is nie ’n ware koshuisbrakkie as ek nog nie een naweek ingebly het nie. Gelukkig het Anerine my vinnig touwys gemaak en is ek vandag ’n trotse koshuisbrakkie! Dankie, La Rochelle, vir die vertroue wat julle in my geplaas het om die koshuis in 2023 te lei. Dit was ’n absolute voorreg en ’n eer en ek verruil my vyf jaar in die blommetjiesrok vir niks! Sterkte aan Mia-Mickay wat volgende jaar by my oorneem. Met Liewe Jesus aan jou kant en Marcél as jou regterhand het ek geen twyfel dat julle ’n groot sukses van die nuwe jaar gaan maak nie. En Avant!
Frankie Montgomery
42 LAR
Frankie Montgomery
Hoofmeisie
La Rochelle Hoër Meisieskool | Girls’ High School
Made with FlippingBook - Online magazine maker