Christa le Roux - 'n Lewe

Altyd Daisy. Altyd Daisies. En Avant La Rochelle. 165 jaar. Sonder Daisy? Kan ’n mens jou kwalik voorstel. Sy wat vir soveel Larrie-geslagte sinoniem met La Rochelle was. Maar, vrees niet: Nou is almal wat daar in gr. 8 begin, sowaar ’n Daisy. En ons, wat op ons dag nog sotte was, kan ons verheug daarin dat daardie indrukwekkende, maar o, so intimiderende mens, voortleef in elkeen van ons wat onsself Larries noem. Larries – altyd. Nou: Waarlik ook Daisies. Blom waar jy geplant is. Blom sóós jy geplant is. Maak nie saak hoe nie. Dis Juffrou Le Roux se nalatenskap, ook vir ons wat gevoel het ons sal nooit aan daardie onmoontlike verwagtinge kan voldoen nie. Veral ons wat meer in die moeilikheid was as daaruit. Veral ons wat rebellerig was. En daarby ook nog gereeld giggelstuipe gehad het. Dit moes vir Juffrou Le Roux moeilik gewees het om soveel meisies – ekskuus, dogters – in toom te hou. Daarom dalk dat sy daardie masker van streng daadkragtigheid moes voorhou. Want dít wil gedoen wees. As jy der dagen zat was van ’n skool se uitdagings, die uitdagings van die Onderwysdepartement, die uitdagings van ’n land in ’n bedeling wat op geen manier verdedig kon word nie, en jou éíntlike taak was om ’n ganse meisieskool vol adolessente te laat blom? Sy was vir ons ’n enigma. Onpeilbaar. Maar ook ʼn unikum. Net een van haar soort. Iemand wat ’n aura uitgestraal het. Daardie ysblou oë het sekerlik gehelp. Maak nie saak wat nie, ons het altyd skuldig gevoel. Daar mag ander briljante skoolhoofde wees, maar sy was primus inter pares. Ook die templaat vir haar opvolgers. Soos hoofmeisie Lizette Vlotman in 1970, my standerd ses-jaar, en wie se liefdestaak hierdie huldeblyk is, oor haar sê: Uit haar dagboeke straal daar so ’n ánder Juffrou Le Roux. Een wat diepe selftwyfel ervaar het. Maar ook: Jy is groter as jou beperkinge. Jy kán. Miskien daarom dat ons met so ’n innige band aan haar, aan La Rochelle, en aan mekaar, verknog bly. Soos die granietpêrel van daardie lieflike berg bokant ons skool, daardie massiewe La Roche, wat met onsigbare magnetisme ewigheidswaardes uitstraal na La Rochelle, die klein rots knus aan haar voete. Die ewigheidswaardes wat Juffrou Le Roux met háár onsigbare magnetisme in ons vasgelê het. Soos wat elke generasie Larries en hul skoolhoofde ervaar: Daar is net een La Rochelle. Want: Altyd Daisy. Altyd Daisies. En Avant. Lizette Rabe, Klas van 1974

Christa le Roux – ’n Lewe 58

Made with FlippingBook Digital Publishing Software