Christa le Roux - 'n Lewe
Nog ’n oud-leerder uit daardie tyd, toe opgestapelde hare (“beehives”) hoogmode was, onthou: “Sy het gereeld my hare uitgekam by die badkamers naby Reptiel (die fisiologie-onderwyseres) se klaskamer. My ‘beehive’ was te hoog volgens haar standaarde. Maar die uitkammery het nie veel gehelp nie.” Soms het sy skalks laat blyk dat die leerders se ondernemingsgees en ondeundheid haar amuseer. Een van die 1964-matrieks vertel: “Net voor bloktyd in matriek het ek en ’n paar ander deur ’n gat in die heining agter die koshuis geglip en kortpad na die Gim koshuise gevat. Ons het hulle beddens gaan dop, want ons was glad nie gelukkig dat hulle die volgende jaar meisies gaan inneem nie. Ons het vol bravade teruggekom, min wetende dat ons verklik is. Daisy het vir ons by ’n gat in die heining ingewag en opgekommandeer kantoor toe. Na ’n goeie skrobbering en dreigement om ons getuigskrifte te kanselleer, is ons terug klaskamer toe. Wat ek egter van daardie insident onthou, is die lag in haar oë. Daar het geen haan daarna gekraai nie.” Nog ’n oud-leerling dink met nostalgie terug: “Ek het my verkyk aan haar hoëhakskoene as sy op die verhoog gestaan het. Die vorige hoof het sulke dik hakke gedra. Ek het my ook verkyk aan haar mooi bene. Daisy was ’n mooi vrou.” In die 2010-feesboek deel mev. Christi Els (née Du Plessis), ’n oud-Larrie, sowel as oud-onderwyseres, haar herinneringe aan Christa le Roux: “’n Perfeksionis wat dogters en personeel met ’n ysterhand in ’n fluweelhandskoen gelei het. Ek onthou hoe sy ’n mini-revolusie van ’n paar personeellede, wat op ’n dag in Februarie besluit het om in die somerhitte sonder sykouse skool toe te kom, ferm in die kiem gesmoor het. Sy het ons vriendelik attent gemaak op die kleredrag-kode vir die personeel en toegekyk hoe ons maar ewe verleë die volgende snikhete dag weer in sykouse verskyn het.” Omdat Christa le Roux meestal binne bestaande norme en regulasies opgetree het, is haar versiendheid en waagmoed nie altyd raakgesien of dalk genoeg waardeer nie. Sy kon “uit die boks dink”, sonder om ooit haar beginsels te versaak. Sy kon ook onder druk koelkop bly, goeie oordeelsvermoë behou en getrou bly aan haarself. Soms het sy besef die saak is groter as haar persoonlike mening en het dan toegegee.
29 Christa le Roux – ’n Lewe
Made with FlippingBook Digital Publishing Software