Boishaaier 2024
Kreatiewe Skryfstukke
Oor ’n koppie tee saam met Oupa
Idilliese Mosambiek
Cornel Scholtz, graad 12
Ettienne van Biljon, graad 12
Met sy strandhut as enigste toevlugsoord teen die brandende son beloof elke dag ’n nuwe avontuur! Oggende gevul met die geluide van die see en die reuk van vars vis en koffie, maak die dag reeds volmaak. Dewald het elke dag begin met ’n vroegoggendswem. Die branders het hom liefdevol omhels en dan uitgespoeg soos ’n kwaai vrou. Die dae het in ’n ritme van rustigheid en verwondering verby gegaan. Hy het die skoonheid van die onderwaterwêreld ontdek terwyl hy die see met ’n snorkel en duikmasker verken het. Kleurvolle visse het hom begroet, die lewe onder die see het sy verbeelding aangegryp en ’n gevoel van nederigheid teenoor God en die oseaan se onmeetbare mag by hom gelaat. In die middae verken hy die kuslyn met ’n gehuurde bootjie. Elke golf het hom nader aan Mosambiek gebring. Die tropiese plantegroei met hulle oorvloedige lewe en die voëls wat hom op sy reis vergesel. Hy het by afgesonderde strande stilgehou wat net aan hom en die natuur behoort het. Daar het hy oomblikke van absolute vrede beleef, weg van die geraas van die lewe se alledaagse bekommernisse. Die Mosambiekse kus is ’n skouspel en ’n paradys. Die wit sandstrande het verder gestrek as wat die oog kon sien, die turkoois water het hom genooi vir nog ’n avontuur wat vir altyd by hom sou bly. Die skroeiende son filter deur die palmblare terwyl ’n ligte briesie oor die branders speel. Dit is Mosambiek, ’n land van skoonheid, wonders en eenvoud, ’n idilliese plek vir ’n jongman met ’n dors na ’n avontuur wat hy nooit sou vergeet nie. Terwyl die son sak en die lug in skakerings van pers en oranje verander, skitter die strand goud. Vure is op die strand aangesteek en Dewald kon die geselskap van nuwe vriende geniet wat gretig was om Mosambiek se geheime te vertel. Die nagte is gevul met stories van die verlede, hoop vir die toekoms en ’n gevoel van verwondering. Dié tye het Dewald herinner aan tye toe hy nog ’n kind was – vol verwondering en vertroue in die wêreld. So breek die einde van sy vakansie aan. Dit was nie net ’n vakansie nie, maar ’n reis na ’n paradys. Die ervaring het hom verander, sy siel gelaai met die skatte van die see en die natuur. Vir hom sal Mosambiek altyd ’n fantastiese plek bly, waar die see sy geheime fluister en die son oor sy siel streel. Soos hy die kus verlaat, laat hy ’n deel van homself agter, ’n deel wat altyd sou wou terugkeer.
Oor ’n koppie tee met Oupa sit en gesels ons oor die hede en die verlede. Ons gesels oor die dae toe Oupa nog agter die skelms aangehardloop het, die dae toe Oupa nog saam met ons in die straat krieket gespeel het. Maar nou sit ons hier in Oupa se hospitaalkamer vir wat heel moontlik ons laaste koppie tee sal wees. Die geraas van buite word verdoof deur die emosies van binne. Ouma sit en maak haar beste grappies om die pyn te verdun, maar dit help nie veel nie. Oupa sit en glimlag soos altyd en ek ... ek sit en snik. Die trane loop nou soos ’n rivier wat oorstroom het. Oupa kan nie opstaan nie, maar sê so saggies: “Seun, alles gaan oukei wees.” Toe Ouma my sien huil, begin haar trane ook rol, maar Oupa vertel toe ’n grappie van sy jongdae wat ons dade lik laat lag. Ek staan op en gaan skink vir ons al drie vir oulaas ’n koppie tee. Oupa kan nie sy tee drink nie, maar dit is die gedagte wat tel. Ouma begin weer stories vertel. Sy vertel van die keer toe ons vir Kersfees uitgegaan het op die Knysna meer. Oupa was nie baie lus om op die boot uit te gaan nie, want sy rug was te seer, maar hy is deur al sy kleinkinders oortuig. Die boot was vol gelaai en Oupa het voor in die neus gaan sit saam met die klein er kinders. Skielik het ’n brander van voor gekom en reg oor die neus gebreek. Oupa se netjiesgekamde hare was sopnat. Ons lag weer lekker saam oor hoe kwaad Oupa was. Oupa vertel weer van sy jongdae in die polisie en Ouma breek so nou en dan in met ’n sarkastiese opmerking. Dit ... dit is die goeie tyd wat ek onthou met Ouma en Oupa: Oupa met sy stories en Ouma met haar grappies. Ek kan nog steeds nie glo dat dit die laaste koppie tee saam gaan wees nie. Al daardie kere wat ek na skool afgestap het na Oupa en Ouma se huis toe vir ’n koppie warm tee en hoe ek met oop arms ontvang is. Maar hier is ons. *** Oupa, waar begin ek? Oupa was net die beste, van die stories en saam lag tot die krieket in die straat speel, ek waardeer dit alles. Oupa het nou Oupa se stryd teen kanker verloor, maar ek weet dat Oupa nog steeds elke dag saam met my Oupa se hemelse koppie tee drink.
BOISHAAI 156 YEARS 101
Made with FlippingBook flipbook maker