Boishaaier 2024

Kreatiewe Skryfstukke

Besittings is nie ’n maatstaf vir ’n ryk lewe nie

Nicolaas Smit, graad 12

Die Desembervakansie het aangebreek. Ek en my broer, Jacobus, kon nie wag om by my oupa in Puntjie te gaan kuier nie. Ons het ons sakke gepak en die volgende oggend vroeg het ons vertrek. Ons het by Puntjie aangekom en ons sakke gou afgelaai. Oupa was nie by die huis nie ... Verlig het ek en Jacobus na mekaar gekyk en gelyktydig gesê: “Hy het onthou.” Ek en Jacobus het ons visstokke gegryp en afgestorm rivier toe. En soos ons verwag het, was Oupa daar en die bootjie was gereed. Die tradisie gaan voort! Ons het ons stokke in die boot gegooi en vir Oupa gegroet. Ek het die ankertou losgemaak en toe begin die pret. Die manne was gereed ... Die weer was perfek ... En die visse was honger! Die motorboot het gemaklik oor die blou water van die Duivenhoksrivier gevaar. Dit was nie lank nie of ons was by ons spesiale bestemming. Ons het die visstokke reggekry, die aas aan ons hoeke gesit en ons lyne so gou as moontlik natgemaak. Jacobus het ’n pak kaarte uitgeruk en ek het ’n pak skyfies oopgemaak. Dit was werklik ’n ongelooflike ervaring. Oupa het stories vertel van sy jong dae en ek en Jacobus het met gespitste ore geluister. Ons het af en toe gelag, want dit neem ’n tydjie om gewoond te raak aan Oupa se Namakwalandse taalgebruik. Ure het soos minute verby gegaan en die son het al begin wegkruip toe die eerste lyn hardloop. Jacobus het opgespring en sy visstok gegryp. Dit was nie lank nie of die vis was in die boot. ’n Mooi 16kg kabeljou.

Dit was oorgenoeg vis vir ons drie vir aandete. Ons het die anker opgetrek en rustig huis se kant toe begin vaar. Ons het die pragtige sonsondergang op pad terug geniet en ons was dankbaar dat ons ’n vis gevang het. By die huis het ek hout gekap en die vuur aangesteek. Oupa en Jacobus het by my kom aansluit by die vuur en ons het oor die Springbokke se wedstryd teen Portugal die afgelope naweek gepraat. Ek het die vis oor die kole gebraai en Jacobus het die tafel gedek. Ek sou op daardie oomblik nêrens anders wou wees nie. Ek was gelukkig. Daardie aand aan tafel het ek en Jacobus vir Oupa gevra hoe dit met hom gaan. Hy het vir ons gesê dat hy die rykste man in die wêreld was. Sy woorde het my bygebly, want ek weet hy het nooit fisies baie geld of besittings gehad nie. Dit het my laat dink oor wat rykdom werklik is. Ek het na lang ure se gedink besef wat dit is wat ek beskou as rykdom of ’n ryk lewe. My hele ervaring daardie dag met Jacobus en Oupa het dit vir my baie duidelik gemaak. My gevolgtrekkig is dat rykdom gevind word in verhoudings, gesondheid en geluk. Daarom kan ek met sekerheid sê dat

besittings glad nie ’n maatstaf van ’n ryk lewe is nie. Met dit gesê, ek was die afgelope naweek skatryk!

102 BOISHAAI 156 YEARS

Made with FlippingBook flipbook maker