BOISHAAIER 2015
LATYN
GAUDEAMUS! Die Latyn-leerders het vanjaar, soos in die verlede, twee uitstappies geniet. Op ons eerste uitstappie het ons oudergewoonte die Paarl deurkruis op soek na spore van die antieke wêreld, en ons het ook in die Strooidakkerk se Kerksaal gaan kuier waar een vertrek onlangs pragtig ingerig is om as raadsaal te dien. Hier kon die leerders sien hoe ʼn paar herdenkings uit die verlede opgediep, afgestof en met trots uitgestal word om besoekers visueel bloot te stel aan momente in die geskiedenis van hierdie historiese kerk. Ons tweede uitstappie was na die Kirstenbosch Botaniese Tuin, ʼn ware lushof van plante en ʼn lafenis vir die siel. Hier moes die leerders onder andere hul Latynkennis toepas deur die botaniese plantname te bekyk, om sodoende kenmerke van plante te probeer ontsyfer. Die roete oor die boomslang-wandellaan is ʼn nuwe aardigheid waar ʼn mens die plante vanuit die hoogte kan bekyk, en ons was gelukkig om een van die Kaap se mooiste, mooiste dae te tref vir hierdie verrykende ervaring. Hierdie twee geleenthede het weer bewys dat dit ʼn mistasting is om te dink dat Latyn ʼn dooie taal is: vivit Latina lingua!
55
Made with FlippingBook - Online magazine maker