BOISHAAIER 2015

FONDSINSAMELING

LAMVEILING Die HJS se vierde lamveiling is weer moontlik gemaak deur skenkings, donasies en harde werk van ons ouers, oudstudente en vriende. Manne soos Oubaas Brink, Rossouw Cillié , Kobus Uys en Ettienne Cronje het reeds vroeg in die jaar ywerig planne begin maak om van die 2015-veiling weer eens ’n sukses te maak. Ettienne en Richard het die lang pad gevat om lammers by boere van Loxton, Beaufort-Wes, Rietbron, Carnavon, Calvinia en Williston te gaan oplaai met Francois Pieterse se vragmotor (DANKIE!). Ons opregte dank aan Nicola van der Westhuizen vir die lekker kuier op Loxton, asook die oorslaap op die asemrowende Jakhalsdans (waar die film ook geskiet is). Skenkings van lammers van Ceres, Riebeek-Wes, Paarl, Agter-Paarl, Moorreesburg, Velddrif en die Durbanville-area is deur die boere self op die plaas Blouwblommetjiesfontein van Oubaas Brink afgelewer, waar al die skape bymekaar gehou is onder die wakende oog van sy bestuurder, Manie Wessels. Hier is die lammers geweeg en genommer en toe skool toe gebring waar hulle tesame met die Ceres-lammers van Rossouw in lotte opgedeel is. Manie is bygestaan in hierdie groot taak deur Johan Conradie van Laastedrif. Katalogus-indelings is gemaak, waarna Uschi Ruthard al die tikwerk vir die katalogus gedoen het. Laastens ’n groot DANKIE vir elkeen wat lekker saam gekuier en ook gebie het! Dit is duidelik dat hierdie ’n baie lekker kuieraand was en volgende jaar maak ons weer so!

WYNVEILING BY ELNATAN PRIVAATSKOOL Vanjaar was dit die derde keer dat Elnatan Privaatskool in Stampriet in Namibië en die HJS Paarl ’n gesamentlike wynveiling gehou het. Dit is in die Elnatan-skoolsaal gehou en was ’n baie groot sukses. Ons het die kwaliteitwyne verskaf en Elnatan die kopers. Die twee skole verdeel die inkomste gelykop nadat al die onkoste afgetrek is. Daar was 101 lotte waarvan 24 lotte uit 3- en 5-literwynbottels met die foto’s van onderskeie skolesportspanne daarop bestaan het. Hierdie bottels het tussen R1 000 en R55 000 behaal soos die ouers die pryse weer opgejaag het. Mnre. Ettienne Cronje en Richard Visagie het die veiling saam met mnre. Rossouw Cillié en Jacques Grobbelaar gereël. Graag wil ons Dottie Modlar bedank vir die moeite om die wyn vir ons daar te kry. Met die samewerking van mense soos me. Louisa Campbell van Elnatan, mnr. Hendrik Swart, Uschi Ruthard en ouers en wynkelders wat mildelik bygedra het, het die aand baie gesellig verloop en ʼn totale opbrengs van R360 000 is bereik. HJS DONKEY DERBY Die funksie is vroeër vanjaar in die skoolsaal gehou. Dit was weer eens ’n groot sukses en ons het gesukkel om van die gaste uiteindelik by die huis te kry. Duidelik het die gaste die aand baie geniet en die perde (drie meisies van HMS en drie seuns) het mekaar goed opgekeil. Later het hierdie wedrengangers ook hulle danspassies tot groot vermaak van almal uitgevoer en ons kon welverdiende pryse aan die beste mans- en vrouedansers oorhandig.

SPORT QUIZ Wat ’n lekker kuieraand vir die 135 Woensdagaand-wegbrekerS! In 2013 het mnr. Swart hierdie byeenkoms so gedoop en die belangstelling groei jaarliks. Ons opregte dank aan Anton en Karin van Wyk wat die baasbreine agter hierdie funksie is. Johan Rademan (RSG- omroeper) het die Quiz op sy uitsonderlike en spitsvondige manier hanteer en Bertie Gerber en Regero Steensma het die Quiz tegnies versorg. Ons gasspreker was Leon Hattingh van Sport Travel wat die NZ 2017-toer se bekendstelling gedoen het. Daarna het Carl Malherbe die veiling hanteer. Maak beslis solank ’n aantekening, want in 2016 gaan die plek gou-gou vol loop! JAGPAKKETVEILING Die 2015-veiling was net soos in 2014 ’n reusesukses. Ons het dit vanjaar vir die vierde keer op die veld voor die skool gehou. Die aand het begin met Richard Visagie wat die gasspreker, Johan Morkel (’n geweermaker) aan die gehoor voorgestel het. Johan bou al sedert 1983 gewere en is deel van Safari & Outdoor. Die afslaer was die bekende Carl Malherbe, wat die veiling op ’n baie spesiale en effektiewe manier gelei het en maklik die 22 pakkette aan die ywerige bieërs verkoop het. Dankie aan ons ouers , oudouers , vriende en oudstudente vir die skenk van die pakkette van die Karoo tot sover as in Namibië. Ons vertrou dat ons jagters reeds hulle jagnaweke geniet het.

TANDEM FIT ARBOR SURCULUS

138

Made with FlippingBook - Online magazine maker