BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE WYNBEDRYF

TOEDIENING VAN GIPS

DIE DOELWIT RONDOM DIE TOEDIENING VAN LANDBOUGIPS Die doelwit rondom die toediening van landbougips is hoofsaaklik om brak gronde te herwin. Opgeloste soute wat in gronde versamel uit soutryke gesteentes soos Malmesbury-skalies skep probleme in wingerdgronde veral omdat die grond toeslaan en waterinfiltrasie verminder. Hoë soutvlakke in besproeiingswater kan ook oor tyd die grond laat verdig en kan met gips reggestel word. In brakgronde is die uitruilbare natrium as persentasie van die totale katioon uitruilkapasiteit (KUK) te hoog en die natriumadsorpsie-verhouding (NAV) van die versadigde ekstrak is ook te hoog. Die gebruik van gips is ook vir die verbetering van die grondstruktuur. Die infiltrasievermoë van die grond is laag en gips verbeter die waterhuishouding en lugdeurlaatbaarheid. Die elektrolietkonsentrasie van besproeiingswater is laag – besproeiing van varswater saam met die inloging van gips word moontlik gemaak sonder dat die grond verdig. Toediening van landbougips verhoog nie die pH van die grond nie en moet daarom nie vir dié doel gebruik word nie. Dit kan wel die uitruilbare kalsium vlakke verhoog. HOEVEEL GIPS WORD BENODIG? Om die hoeveelheid gips wat per hektaar aan brakgrond toegedien moet word te bereken, kan die Na (uitgedruk in cmol/kg) met 3,4 vermenigvuldig word, vir ’n aanduiding van hoeveel ton gips per hektaar benodig word vir elke 300 mm-grondlaag. Sommige analiseverslae dui natrium in mg/kg of dele per miljoen (ppm) aan. In sulke gevalle moet die Na (mg/kg of ppm) deur 230 gedeel word om die hoeveelheid Na in cmol/kg te verkry. Aangesien wateroplosbare Na eenvoudig deur effektiewe dreinering uitgewas kan word, word gips slegs benodig om uitruilbare Na te verplaas, d.w.s. dit wat aan die gronddeeltjies geadsorbeer is. Laboratoriumanalises dui gewoonlik totale Na aan, d.w.s. oplosbare sowel as uitruilbare Na, wat beteken dat ’n oormaat gips dikwels in die praktyk aanbeveel word. Dit is daarom raadsaam om nie meer as 10 ton gips per hektaar op enige gegewe tydstip toe te dien nie. Na ’n jaar moet grondanalises verkieslik weer uitgevoer word om te bepaal of addisionele gips benodig word.

4

33

Made with FlippingBook Annual report maker