BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

HOOFSTUK 5

Gipstoedienings is die mees praktiese en goedkoopste oplossing vir S-tekorte, maar herstel geskied geleidelik oor meer as een seisoen. Die jaarlikse S-behoefte van ’n wingerd is vergelykbaar met dié van P en ’n toediening van 1 ton ha –1 gips behoort vir die leeftyd van die wingerd voldoende te wees. Volgens plaaslike norme vir die swawelinhoud van gronde word ’n waarde van 0 – 4 mg kg –1 as “laag” beskou, 4 – 6 mg kg – 1 as as “effens laag”, 6 – 8 mg kg –1 as “bevredigend”, 8 – 12 mg kg –1 as “goed” en > 12 mg kg –1 as “hoog”. Omdat blaaranalise vir S ’n ekstra ekstraksie behels, word dit nie algemeen gedoen nie. Gevolglik is akkurate norme nog nie ontwikkel nie, maar daar word aanvaar dat waardes van laer as 0.2% in bladskywe op tekorte dui, ongeag die monsternemingstyd. MI KRO- OF SPOORE LEMENTE Elemente in hierdie groep wat noodsaaklik is vir plantegroei, is yster (Fe), mangaan (Mn), sink (Zn), koper (Cu), boor (B), molibdeen (Mo) en chloor (Cl). Yster (Fe) Die belangrikste funksie van Fe is as energieverskaffer in redoksreaksie-ensiemsisteme. Alhoewel dit nie deel uitmaak van die molekuul nie, is Fe essensieel vir die vorming van chlorofil. Dit word as die ferro- of ferri-ioon of as sintetiese of natuurlike chelate opgeneem, maar om in die plant fisiologies aktief te wees, moet Fe minstens gedeeltelik in gereduseerde vorm wees. Die meeste gesteentes bevat volop Fe, met uitsondering van kalk- en sommige sandstene; gevolglik is die Fe-inhoud van die meeste gronde ook hoog. Daar is egter geen verband tussen die totale Fe-inhoud van grond en die toeganklikheid daarvan vir plante nie. Die teenwoordigheid van kalk in grond (hoë pH), gepaard met koel, nat toestande, kan aanleiding gee tot ophoping van bikarbonaatione, wat direk in die grond of indirek in die stok die oplosbaarheid van Fe benadeel en aanleiding gee tot Fe- tekortsimptome. Dan word daar gewoonlik gepraat van “kalkgeïnduseerde Fe-chlorose”. Aangesien Fe so onbeweeglik in die plant is en die vorm waarin dit voorkom deurslag- gewend is, kan chlorotiese blare selfs meer Fe as gesonde blare bevat. Blaaranalise vir Fe is dus nie altyd betroubaar nie. Die kenmerkendste simptoom van ’n Fe-tekort is algemene tussennerfse chlorose (vergeling) van blare, eerste op die jonger blare, met totaal vergeelde, amper albinoagtige blare in akute gevalle (Figuur 16). In die laasgenoemde geval verbruin die blare maklik weens sonbrand, val later af, die ontblaarde lote sterf terug en sylote ontwikkel wat die stok ’n bossie-agtige voorkoms gee. Die oes verminder dan drasties en die stok kan selfs doodgaan.

BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 65

Made with FlippingBook - Online magazine maker