BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF

HOOFSTUK 5

Swawel (S) Swawel word as die sulfaatioon uit die grond opgeneem, wat dan in die plant gereduseer word om as ’n komponent van aminosure (en dus sekere proteïene), sekere vitamiene en ensieme te dien. Dit is ook ’n ensiemaktiveerder en is gemoeid met die omsetting van lig- na chemiese energie. Verder is dit ook ’n komponent van sekere geurstowwe. Swawel kom in ’n groot verskeidenheid minerale voor, soos sulfiede en sulfate waarvan ysterpiriet (FeS 2 ) en gips (CaSO 4 ) t.o.v. grond die belangrikste is. Die sulfiede verweer deur oksidasie na sulfate wat in ariede streke as gips neerslaan. Die oplosbaarheid van gips is laag (0.24%), maar steeds hoog genoeg om in die S-behoeftes van plante te voorsien. Naby die kus kom S-bevattende seesproei voor, terwyl S in industriële gebiede in uitlaatgasse en industriële rookbesoedeling voorkom, waarna dit in die grond beland. Hierdie hoeveelhede S kan van 1 tot 100 kg ha –1 jr –1 wissel en is dikwels genoeg om in plante se behoeftes te voorsien. Heelwat S kom ook in die organiese fraksie van die grond voor, met N:S-verhoudings wat wissel tussen 10:1.2 en 10:1.5. Hierdie S word ook deur mineralisasie vrygestel. Swaweltekorte word nie by wingerd verwag nie, omdat S-bevattende swambeheermiddels in die verlede algemeen gebruik is en bemestingstowwe soos superfosfaat volop S in die vorm van gips bevat. Die hoeveelhede S wat deur swambeheermiddels ingebring word, is deesdae egter ignoreerbaar min. Bemestingstowwe word ook in hoër konsentrasie met S-vrye verbindings of mengsels berei, sodat S min of glad nie meer hierdeur in die grond ingebring word nie en die S-behoeftes van wingerd dus toenemend in gedagte gehou sal moet word. ’n Swaweltekort by wingerd, ver van die kus of stedelike besoedeling, is gevolglik al geïdentifiseer waar nie van S-bevattende swambeheermiddels of kunsmis gebruik gemaak is nie. By wingerd is S-tekortsimptome nie spesifiek nie. Dit toon ’n ligte vergeling van blaarrande, bossie-agtige groei, lote wat terugkrul, barste in die bas van lootbasisse, rooi blaarstele, rankies en trosstingels, terwyl lote by sekere kultivars rooi verkleur (Figuur 14). Die hoek tussen die blaarsteel en hoofnerf kan ook afneem. By onderstokke vou die blare na bo, gepaardgaande met duidelike bladrandchlorose en nekrotiese spikkels, veral op die agterkant van die blare (Figuur 15).

BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 63

Made with FlippingBook - Online magazine maker