BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF
HOOFSTUK 5
5 ONDERHOUDS- BEMESTING
P I ETER RAATH, KOBUS CONRAD I E & DAWI D SAAYMAN
I NLE I D I NG Die fisiologiese en metaboliese prosesse wat wingerd laat presteer en optimaal laat produseer, word deur belangrike makro- en mikro-elemente beïnvloed. Elemente soos stikstof, fosfor, kalium, kalsium, magnesium, boor, sink, mangaan, yster en koper speel belangrike rolle in wingerdstokfunksionering, groei, produksie en vrugkwaliteit. In teenstelling met die meeste ander tuinbougewasse, is die voedingsbehoefte van wingerd egter redelik laag. In ’n goed voorbereide grond, waar ’n groot wortelstelsel kan ontwikkel, word voedingstowwe oor ’n lang periode van ongeveer sewe maande uit ’n groot grondvolume opgeneem. Hierdie faktore dra daartoe by dat visuele tekortsimptome nie so geredelik by wingerd, as by baie ander gewasse, ontwikkel nie (Saayman, 1981). Ten spyte van die afwesigheid van tekortsimptome skryf heelwat tafeldruifprodusente egter kwaliteitsprobleme verkeerdelik aan gebrekkige bemesting toe. By wingerde wat optimaal bemes word, is kwaliteitsprobleme aan ander faktore te wyte en sal addisionele bemesting geen effek hê nie. Die verskeidenheid grondtipes wat in Suid-Afrika voorkom, gee egter aanleiding tot unieke uitdagings met uiteenlopende voedingsbehoeftes wat in die verskillende tafeldruifstreke ervaar word. Bemestingsprogramme moet dit ten doel hê om individuele voedingelementbehoeftes aan te spreek, sodat gebalanseerde groei- en lower-tot-drag-verhoudings verkry kan word, saam met vinnige rypwording van trosse en hout en goeie druifkwaliteit. Ten einde produsente te voorsien van riglyne vir die daarstelling van sodanige optimale bemestingsprogramme, word die grondbeginsels van wingerdvoeding in hierdie hoofstuk bespreek.
BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE TAFELDRUIFBEDRYF | 37
Made with FlippingBook - Online magazine maker