’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

DEEL 1

In die praktyk, waar die produktiewe en volhoubare prestasie van enige wingerdstok met ’n verwagte lewensduur van minstens 25 jaar vereenselwig word, word die kwaliteit van vestigingsmateriaal baie hoog aangeslaan. Gegewe die plaaslike situasie betreffende plantverbetering, word derhalwe ’n dringende en belangrike versoek tot produsente gerig om te alle tye by geregistreerde kwekers op gesertifiseerde kwekerystokke aan te dring. Sodoende kan verseker word dat slegs die bes beskikbare materiaal aangeplant word. ’n Verdere aanbeveling sou ook kon wees dat ’n vertrouenswaardige verhouding tussen produsente en kwekers opgebou word, in welke geval die ondervinding daarop dui dat laasgenoemde nie ongeneë sal optree indien probleme by jong aanplantings sou opduik nie – veral nie ten opsigte van virusgeassosieerde verskynsels (Foto 1), asook in gevalle van entlas (Foto 2) en wortelvormingsprobleme nie (Foto 3). Dieselfde benadering sou kon geld waar probleme geassosieer met vertraagde of geen bot, vergeling van lower, verdwergde lootgroei (Foto 4) en algehele terugsterwing (Foto 5) by jong stokke sou toetree. In hierdie verband moet sekerheid verkry word van onder andere die aanwesigheid en bydrae(s) van Petri se siekte (black goo) en swartvoet (blackfoot) tot die verkleuring, verrotting en verstopping van vaatweefsel waarmee bogenoemde situasies vereenselwig sou kon word (Foto’s 6, 7, 8 en 9). Benewens plantmateriaal is korrekte en sorgvuldige grondvoorbereiding, hantering van geënte stokkies wanneer by kwekerye afgehaal asook korrekte en nougesette plantprose­ dures van ewe groot belang om nie slegs ’n minimum lewensverwagting van 25 jaar en selfs meer te bereik nie, maar ook om deurlopend volhoubare en winsgewende opbrengste te verseker. In hierdie verband is volledige en ryklik geïllustreerde riglyne ten opsigte van korrekte grondvoorbereidingspraktyke, plant van stokke en jongstokontwikkelingsprose­ dures breedvoerig deur Archer & Hunter (2010) uiteengesit. Die stiptelike nakoming van hierdie aanbevelings maak dit dan makliker om die oorsaak(e) van spesifieke probleem­ situasies soos bo aangedui, vas te stel indien dit na vore sou tree.

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 9

Made with FlippingBook Ebook Creator