’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
PLANTMATERIAAL- PROBLEME 1 I n SuidAfrika word ’n besonder hoë premie op plantverbetering geplaas – waardeur meegebring word dat al die materiaal, hetsy van ingevoerde of plaaslik ontwikkelde klone en kultivars, aan uiters streng gekontroleerde verbeteringsprosesse onderwerp word alvorens dit aan die bedryf beskikbaar gestel word. Tans beskik die SA wynbedryf oor hoofsaaklik twee plantverbeteringsinstansies/aanlegte, naamlik: (i) Vititec en (ii) Ernita Kwekery (Distell), in welke opsig ’n gemeenskaplike doelwit – soos gebaseer op die uitreiking van uitsluitlik die bes beskikbare wingerd en wynboukundig geselekteerde kloonmateriaal, wat vry toets van bekende skadelike virusse en virusagtige entiteite – deurlopend nagestreef word. Op grond daarvan dat weefselkultuurtegnieke ( in vitro kulture) ’n onontbeerlike skakel ten opsigte van plantmateriaalverbetering versinnebeeld, is intensiewe en omvattende navorsing hieromtrent (vanaf 1977) deur die Departement Wingerd en Wynkunde, Universiteit Stellenbosch, van stapel gestuur – met spesifieke oogmerke om sodanige tegnieke vir plaaslike toestande te ontwikkel ten einde onder andere vir die suksesvolle eliminering van skadelike virusse en verwante entiteite voorsiening te kon maak (Goussard, 1981, 1982, 1984, 1985, 1987). Voortspruitend uit hierdie baanbrekerswerk en latere samewerking met bogenoemde instansies, is tegnologie soos verbonde aan hierdie tegnieke (Goussard & Wiid, 1989; Goussard et al., 1991; Goussard & Wiid, 1992, 1995) tot wêreldstandaarde uitgebou en verfyn – om tans steeds uiters suksesvol in plantmateriaalverbeteringsprosesse aangewend te word. Ingevolge die Plantverbeteringswet is die Wyndruifverbeteringsvereniging (WVV) die gedelegeerde gesag wat plantverbetering by wyndruiwe in SuidAfrika koördineer en die SA Sertifiseringskema vir Wyndruiwe administreer. Klone wat ontwikkel word en waarvan materiaal die totale kringloop van plantverbetering (kloonseleksie, virusopsporing en – eliminering, asook plaaslike evaluering op wingerd sowel as wynboukundige gebiede) deurloop het, word by die WVV geregistreer, waarna entmateriaal as ‘SA Gesertifiseerd’ vanaf goedgekeurde bronne uitgereik word.
8 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator