’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
SWAMSIEKTES Botrytis (vaalvrot) 2.5
A lhoewel vaal of botrytisvrot in feitlik alle verbouingsareas voorkom, is die aanslag daarvan baie minder in warm droë areas – hoofsaaklik weens die beperkende effek wat deur ’n heersende lae relatiewe humiditeit op infeksie uitgeoefen word. Benewens bevorderlike klimaatstoestande word die toetrede en verloop hiervan deur verskeie faktore beïnvloed, waarvan kultivar weerstandbiedendheid en verbouingspraktyke soos stok en draerspasiëring, prieelstelsels en lowerbestuur (suier en blaaruitdunning) as van die belangrikstes uitgesonder kan word. In opvolging van infeksie kan die siekte op verskeie maniere ontwikkel – wat grootliks deur klimaatstoestande gereguleer word – om sodoende aanleiding te gee tot die ontstaan van edelvrot (koel toestande, hoë relatiewe humiditeit, maar nie nat) of vaalvrot (warm, nat toestande). Eersgenoemde geval bied die moontlikheid om spesiale laatoes of edelwyne te berei, terwyl in laasgenoemde geval weefselverval (verrotting) van korrels aan die orde is om derhalwe tot aansienlike oesverliese by te dra. Oorwintering geskied deur die vorming van spesifieke strukture (sclerotia) in geïnfekteerde lote en korrels asook op dooie organiese materiaal in wingerde. Onder gunstige toestande vind sporulasie plaas waarna spore op druifkorrels beland en suksesvolle ontkieming in die teenwoordigheid van vrywater ondergaan om sodoende die skil binne te dring. Aangesien infeksie selfs tydens die blomstadium kan plaasvind waarna die patogeen latent bly tot die aanvang van rypwording, behoort chemiese beheer (in gebiede met bevorderlike klimaatstoestande) in noue oorleg met deskundige advies uitgevoer te word. In warmer en droër areas behoort die sorgvuldige en korrekte toepassing van veral lowerbestuurspraktyke genoegsaam te wees om botrytisvrot in bedwang te hou. Hoewel ontkiemende spore nie van wonde afhanklik is om die korreldop binne te dring nie, bied laasgenoemde soos aangetref by onder andere korrelbars en voëlpik bykomstige ingangspoorte waarvan mildelik gebruik gemaak word. Die eerste tekens van vaalvrot kom tydens rypwording voor en word geassosieer met ligbruin (wit korrels) en dofkleurige (gekleurde korrels) dopverkleurings wat met die uitoefening van die geringste druk die skil laat wegglip van die onderliggende weefsel – vandaar die benaming glyskil (soms ook kraakdop genoem) (Foto’s 73 & 74). Hierdie verskynsel is baie tipies van vaalvrot en is in teenstelling met onder andere suurvrot waar dit nie voorkom nie. Die verrotting dring stadig dieper in die korrelweefsel met daaropvolgende totale verbruining wat onder gunstige toestande tot weefselverval aanleiding gee (Foto’s 75 & 76). Grys spore word op geïnfekteerde korrels gevorm waar dit in tros of streepvormige ontwikkelingsformate waargeneem kan word (Foto’s 77, 78 & 79). Indien droë, warm periodes ná infeksie sou voorkom, word besmetting gewoonlik tot enkele korrels aan ’n tros beperk, waarna hulle óf verkrimp, verbruin en verhard (Foto 80) óf tot die toetrede van ander nadelige sekondêre organismes aanleiding gee (Foto 81). Edelvrot is by uitstek van natuurlike, bevorderlike klimaatstoestande (soos bo
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 53
Made with FlippingBook Ebook Creator