’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

vasgestel kon word, die swart – rooi – wit kleurverandering nog nie by ’n individuele kultivar(s) waargeneem nie. Wat wel voorgekom het, is ’n afwyking van swart na grys na wit, soos in die geval van Cinsaut noir (Foto’s 454 & 455). Verdere voorbeelde vanaf oorsese herkoms sluit onder andere Pinot noir en Grenache noir in, in welke opsig Pinot gris en Pinot blanc by eersgenoemde en Grenache gris en Grenache blanc by laasgenoemde, as egte korrelkleurmutasies aan die orde gebring is. MINDER BEKENDE/ONBEKENDE AFWYKINGS In die breë oorspan voorgenoemde voorbeelde nie die totale spektrum van vegetatief­ voortplantbare afwykings, soos dit by individuele of selfs meer stokke in bepaalde wingerdblokke, mag voorkom nie. Op grond van ekonomiese ingrepe soos deur minder bekende en/of onbekende afwykings uitgeoefen kan word, word deurlopende seleksie ook hier ten sterkste aanbeveel – ’n praktyk wat uiteraard nie sonder ’n basiese kennis van: (i) karakteristieke kultivareienskappe, asook (ii) die normale morfologiese voorkoms en posisionering van alle organe by individuele stokke, op ’n noukeurige grondslag uitgevoer kan word nie. Tipiese afwykende voorbeelde in hierdie kategorie sluit onder andere die volgende in, naamlik: (i) atipiese blare/verkorte lootgroei/afspeen van korrels (by Hárslevelü) (Foto’s 456 & 457); (ii) plat en dubbellote/trosstele/vertakkings/klein, pitlose korrels (by Durif) (Foto’s 458 & 459); (iii) uitermate gevurkte lote (by Verdelho) (Foto 460) en (iv) atipiese posisionering van rankies (kultivar onbekend) (Foto 461). CHIMERAS By wingerd is die apikale meristeem van ’n verlengende loot (AML) geneties baie stabiel – om as sulks met vrug vir weefselkultuurtegnieke aangewend te word. In gevalle waar ’n afwyking in die ontwikkelende weefsel van die AML sou voorkom (sonder dat die weefsel afsterf), beskik lote oor die verbasende vermoë om sodanige afwykings te ontkom – in welke geval die hoofloot aan normale groei onderwerp word, terwyl die afwyking op ’n laterale loot as ’n chimera verskyn. Soms word die afwyking egter op die hoofloot behou. Sodanige abnormaliteite laat stokke nie afsterf nie en word gewoonlik tot een loot beperk – met die vooruitsig dat stokke dan weer in die opvolgende groeiseisoen normaal vertoon. Twee tipes chimeras wat algemeen voorkom, is die sogenaamde bontblaar en platloot verskynsels, in welke geval eersgenoemde óf deur afwisselende geel en groen stroke tussen blaarnerwe óf deur wit blare met groen spikkels óf selfs deur blare waarvan die een helfte groen met die ander helfte wit, gekenmerk word (Foto 462), terwyl laasgenoemde weer met breë, plat internodia – om dikwels ’n gevurkte voorkoms aan te neem – vereenselwig word (Foto 463).

’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 285

Made with FlippingBook Ebook Creator