’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

ABIOTIESE ABNORMALITEITE Droogte, versuiping en brak 6.2

Droogte In die breë is droogtegeïnduseerde watertekorte redelik maklik herkenbaar om as sulks met ’n vergeling van veral ouer blare – wat dikwels in assosiasie met voorafgaande blaarrandverdroging/skroei gepaard gaan – vereenselwig te word. Sodanige situasies word normaalweg – veral in gevalle waar stokke aan volgehoue droogtetoestande onderwerp sou word – met totale verdroging en voortydige val van blare opgevolg, waarna druiwe (gewoonlik in ’n verlepte formaat) aan die ingrepe van sonbrandskade onderwerp word. In hierdie kategorie word abnormaliteitsverskynsels, soos met droogte geassosieer word, visueel uitgebeeld en met kriptiese onderskrifte – met inbegrip van spesifieke oorsake/redes by individuele gevalle – weergegee (Foto’s 411 417). Versuiping Alhoewel stokke gedurende die dormante periode weerstandbiedendheid teenoor versuiping openbaar, is die teendeel dat betekenisvolle kwesbaarheid oor die verloop van die groeiseisoen ondervind word – met spesifieke verwysing na aktiewe wortelgroeifases, in welke geval pieke normaalweg tydens blom, maar veral ook oor die verloop van etlike weke ná oes, bereik word. Soortgelyk aan droogte en brak, word versuipinggeïnduseerde watertekorte met ’n vergeling en verdroging van blare – wat dikwels in assosiasie met blaarrandverdroging/skroei gepaard gaan, vereenselwig (Foto’s 418 & 419). In die lig daarvan dat by ernstige versuipte toestande, waar langdurige wateraansameling óf bo óf net onder die grondoppervlakte sou voorkom (Foto’s 420 & 421) – om as sulks tot die uiteindelike afsterf van stokke by te dra, is die verskynsel moeiliker visueelidentifiseerbaar waar bogrondse abnormaliteite eers ná die beëindiging van sodanige toestande aan die orde gestel word. Op grond hiervan word wortel en grondondersoeke ten sterkste aanbeveel, waar onder andere by ingrypende dreineringsprobleme/versuipte toestande, deurgebreekte wortels met ’n suurderige reuk in verband geplaas word (Foto 422). Brak Volgens die literatuur kan vertraagde lootgroei met in opvolging daarvan die voorkoms van donkerder groen, dowwe blare – as gevolg van ’n dikker waslaag – as algemene tendense by die toetrede van abnormaliteite, soos met brakskade vereenselwig word, beskou word. Uiteraard is bostaande verskynsel(s) egter dikwels nie maklik visueelwaarneembaar nie en kan boonop ook met ander oorsake verwar word. Die oorgang daarvan na verdroging/­ skroeiing van blaarrande (Foto 423) – om met verloop van tyd tussen hoofnerwe in te dring (in samehang met rande wat na bo krul), is egter baie kenmerkend van brak en gevolglik ook makliker visueelinterpreteerbaar (Foto 424). Terselfdertyd word blaarval vervroeg, terwyl lootpunte neig om groen te bly, terug te sterf of om weer te bot en tot die voorkoms van groen blare aanleiding te gee (Foto’s 425 427). Onder sodanige toestande word minder of selfs geen trosse geproduseer nie – en waar dit wel sou realiseer, bly dit in gebreke om optimale rypheid te bereik (Foto 428).

262 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator