’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
WINGERDPLAE Stamboorders, slakke en vrugtevlieg 5.5
Stamboorders In opvolging tot die uitbroei van motgelegde eiers (kweperstamboorder), word diep strekkende tonnels stelselmatig deur jong larwes in meerjarige hout van veral stamme en kordonne geboor – waarna voedingsaktiwiteite aanvanklik deur die vernietiging van murggedeeltes en latere uithol van die hout gekenmerk word. Gedurende die groeiseisoen wissel geïnduseerde abnormaliteitsverskynsels van geen sigbare effek tot stokke of individuele kordonne wat swak(ker) groei, of selfs waar geen uitbot plaasvind nie – na gelang van die graad van infestering en tydsverloop sedert die binnedringing van hout ’n aanvang geneem het. Aanvanklik is die gaatjies baie klein en feitlik onopvallend, maar vergroot met verloop van tyd tot gate met ’n deursnee van tot 10 mm – wat opsigself gekenmerk word deur opvallende fyn houtsaagsels soos deur die larwes na buite uitgewerk – as resulterend van die instandhouding/ verruiming daarvan tot poorte waardeur volwasse motte (ná voltooiing van die lewensiklus) weer kan ontsnap. Kenmerkende, visueelwaarneembare skade soos met die voedingsaktiwiteite van stamboorders vereenselwig word, word ten beste met die deursaag van aangetaste houtgedeeltes blootgelê, waartydens volwasse larwes, kokonne en papies (soos tiperend van kweperstamboorders) ook dikwels waargeneem kan word. Alhoewel stamboorderskade meesal by meerjarige hout aangetref word, kan een en tweejarige winterlote ook aangetas word, in welke geval – weens die vernietiging van die murg – totale afsterwing daarvan aan die orde gebring word. Uiteraard dien laasgenoemde as ’n aanduiding dat stamboorderskade nie spesifiek aan die alombekende kweperstamboorder toegedig kan word nie, maar dat ander voorbeelde ook voorkom. In hierdie verband word skadelike ingrepe van kenmerkende stamboordertipes wat algemeen by wingerd voorkom, visueel uitgebeeld en so toepaslik moontlik met kriptiese onderskrifte toegelig (Foto’s 336 – 343). Slakke Abnormaliteitsverskynsels soos deur die voedingsaktiwiteite van slakke teweeggebring word, is baie kenmerkend en word normaalweg met karakteristiek, visueelwaarneembare vreetpatrone by aangetaste organe van stokke vereenselwig. Ernstige skade word veral gedurende die lente en vroeë somer aangerig, soos aanduidend daarvan dat jong botsels en daaropvolgende nuwe vegetatiewe groei vernietig mag word – ’n situasie waartydens selfs blomtrosse in die slag mag bly. By jong lote word voedingsaksies gewoonlik deur verkorting van internodia en vertraagde groei met kleiner en misvormde blare opgevolg. Later in die seisoen word slakskade met variërende vreetpatrone geassosieer wat kan wissel van jong blare wat feitlik in totaliteit opgevreet word, tot ouer blare met gate of halfmaanvormige gedeeltes wat uit die rande daarvan gevreet word. Allesomvattend, soos gegrond op ernstige skade wat deur slakke binne kort periodes (selfs oornag) by geoormerkte stokke uitgeoefen kan word, bly dit kardinaal van belang om ten volle met die voorkoms, asook gedrags en vreetpatrone daarvan, op hoogte te bly (Foto’s 344 349).
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 215
Made with FlippingBook Ebook Creator