Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika

5 Riglyne vir keuse van onderstokke

By tafeldruiwe is die voorkoms van aalwurms in die grond die primêre oorweging by die keuse van onderstokke. Filloksera moet egter nooit oor die hoof gesien word nie. Tans is die vyf mees gebruikte onderstokke vir tafeldruifverbouing Ramsey, R 110, P 1103, R 99 en US 8-7, goed tot uitstekend verdraagsaam teen knopwortelaalwurms en baie goed tot uitstekend teen filloksera. Twee onderstokke wat goed presteer het in proewe en hoë potensiaal vir gebruik by tafeldruiwe toon, naamlik Dog Ridge en SO4, is onderskeidelik baie goed-tot-uitstekend en goed-tot-baie goed weerstandbiedend teen knopwortelaalwurm. Beide bied goed weerstand teen filloksera. Feitlik alle tafeldruiwe word op medium tot hoë potensiaal gronde verbou en optimale verbouingspraktyke word toegepas, insluitend vestiging, bewerking, bemesting en besproeiing. Regstelling ten opsigte van pH, voedingselementtekorte (byvoorbeeld P- en K-vlakke) en grondsuurheid, word tydens grondvoorbereiding gedoen. Gevolglik word nuwe wingerde vanaf vestiging onder uiters gunstige toestande volwasse, wat wingerde met goed ontwikkelde wortelstelsels tot gevolg het. Hierdie besonder gunstige toestande vir groei, asook die inherente sterk groeikrag van “nuut” ingevoerde kultivars en ander sterk groeiende kultivars, saam met die gebruik van Ramsey as onderstok, lei dikwels tot oormatige sterk groei. Dit kan lowerbestuurskostes verhoog, druifgehalte voor oes, asook tydens koelopberging benadeel en die vrugbaarheid van die stokke verlaag. Oormatige groei van geënte stokke is een van die grootste wingerdboukundige uitdagings waarmee tafeldruifprodusente te kampe het. Onderstokke het die vermoë om bostokgroei te beïnvloed, maar onderstok alleen kan nie die probleem oplos nie. Perseel eienskappe (oorhoofse beskerming met haelnette of plastiekseile), omgewingstoestande (klimaat en primêr die grondgehalte) en beskikbare water vir die stok (besproeiing en reënval), kan onderstokprestasie ook betekenisvol beïnvloed.

’n Ramsey-tros (Foto: Jan Avenant)

Vir die kies van die regte onderstok is ’n paar stappe nodig: STAP 1: Skakel minder geskikte swak onderstokke uit. Skakel onderstokke of spesifieke onderstokklone uit wat swak verenigbaarheid en/of affiniteit met die gekose bostokkultivar het. STAP 2: Klassifiseer die beste potensiële onderstokke GROEP 1 Onderstokke met sterk groeikrag: Ramsey en Dog Ridge Induseer vinnige en sterk groei, afhangend van die inherente groei van die bostokkultivar. Kan bostok reeds volledig ontwikkel in seisoen van plant. Lewer meestal goeie tot uitstekende gehalte tafeldruiwe, met goeie korrelgrootte met meeste bostokke. Reaksie met plantgroeireguleerders is uitstekend, indien sterk groei geïnduseer word.

Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika 57

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online