Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika
Verskeie bostokkultivars is in uiteenlopende gebiede op verskillende gronde, wat fisies, chemies en biologies verskil, geëvalueer op verskillende onderstokke in proewe, wat verskillend saamgestel was. Tabel 5 tot 9 toon die variasie van die verskillende proewe ten opsigte van produksie en groeikrag (lootmassa), soos beïnvloed deur die fisiese, chemiese en biologiese grondeienskappe van die onderskeie proefpersele, asook die belangrike rol wat bostok-onderstok-interaksie op groei en produksie het. Die knopwortelaalwurmtelling by die meeste proewe was baie laag, waarskynlik weens die aalwurmbeheerbehandelings wat toegepas is, behalwe by die Prime-proef by Fulham in die Noord-Kaap. Geen knopwortellarwes is in enige van die wortelmonsters gevind nie en alhoewel ou galle op wortels voorgekom het, is geen lewende wyfies of eiersakkies gevind nie, wat aandui dat aalwurmbeheerbehandelings wat toegepas is, effektief was. Die knopwortellarwes wat in grond gevind is, was waarskynlik van eiers in die grond wat uitgebroei het, wat in die grond oorleef het, of afkomstig van dekgewasse of onkruid in die ry. Oordeelkundige en optimale tafeldruifbemesting kan lei tot kostebesparing terwyl die omgewing ook beskerm
word. Bemestingsbehoeftes hang af van die onderstok (wat opname van makro- en mikroplantvoedings elemente kan beïnvloed), asook die blok se fisiese en chemiese grondeienskappe, wat ’n invloed het op beskikbare plantvoedingselemente vir die stokke. Bogenoemde tabelle toon die variasie in onderstokinvloed op blaarsteelvoedingstatus, asook die belangrike rol van bostok-onderstok-interaksie ten opsigte van blaarsteelvoedingstatus. Onderstokke in die verskillende groepe verskil aansienlik ten opsigte van lootmassa en opbrengs by die verskillende persele. Onderstokprestasie was egter nie konstant tussen persele nie, maar so ook was die effek van onderstok en bo-en-onderstokkombinasies nie konstant by blaarsteelvoedingstatus nie. Hierdie verskille beklemtoon die invloed wat grondtekstuur en beskikbare plantvoedingstatus, onderstok, maar veral ook bostokkultivar, op die groei en prestasie van stokke het. Blok-spesifieke volhoubare bemestingriglyne vir spesifieke bo-en-onderstokkombinasies kan deur navorsers en adviseurs opgestel word op grond van beskikbare navorsingsresultate en rekords van kommersiële blokke.
Foto: Jan Avenant
56 Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika
Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online