Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika

VOORWOORD

E k het Jan Avenant in 1989 ontmoet en ons het vir meer as ’n dekade saam gewerk in die Wingerdkunde afdeling van die LNR Infruitec Nietvoorbij. Sedert die begin van sy navorsings loopbaan in 1980, het hy verskeie betekenisvolle bydraes gelewer op die gebied van tafel- en droogdruifbedrywe van Suid-Afrika. Hy is steeds heeltyds betrokke by navorsing op hierdie terreine. In die tydperk 1980 tot 1993 was hy gestasioneer op die Roodeplaat proefplaas buite Pretoria en was hy verantwoordelik vir vestiging van basiese wingerdboubeginsels vir die noordelike provinsies, insluitend die aanplant van sy eerste tafeldruifonderstokproewe op verskeie persele in dié provinsies. Sedert 1994, is mnr. Avenant op Nietvoorbij buite Stellenbosch gestasioneer en is sy navorsing steeds gefokus op wingerdboukundige aspekte van tafeldruif- en droogdruifverbouing. Sedert die begin van sy navorsings loopbaan, is onderstok-evaluering een van sy hoofnavorsingsgebiede. Hy het oor ’n tydperk van 38 jaar onderstokproewe gedoen in al vyf tafeldruifproduksiestreke, asook in die twee belangrikste droofdruifproduksiestreke in die land. Hierdie boek bied ’n samevatting van sy navorsingsresultate, verkry uit evaluering van tafeldruifonderstokke. Die inhoud van die boek bevat grotendeels resultate van sy eie navorsing, maar dit sluit ook ander relevante Suid-Afrikaanse en internasionale werk in. Die gebruik van onderstokke by wingerd verbouing in Suid Afrika het reeds sowat 140 jaar gelede ’n praktyk geword, nadat filloksera vanuit Europa grootskaalse

terugsterwing onder aanplantings veroorsaak het. Vir baie jare was hierdie grondgedraagde insek beskou as die primêre oorsaak van gebrekkige groeikrag en swak druifgehalte. Vandag weet produsente dat die prestasie van hul wingerd deur ’n hele aantal faktore bepaal word. Wetenskaplikes het deur navorsing getoon dat verskeie grondgedraagde organismes die wingerdstok se groei benadeel, asook dat grondtoestande ’n groot rol speel. Indien hierby gevoeg word die inherente eienskappe van die bo- en onderstokkultivar, sowel as die wisselende mate van verenigbaarheid en affiniteit wat tussen bo- en onderstokke bestaan, besef ons dat die keuse van watter onderstok om vir ’n nuwe aanplanting te gebruik, ’n komplekse taak is. Navorsing wat oor baie jare in Suid-Afrika gedoen is, asook die ervaring en resultate van vele veldproewe, verskaf egter breedvoerige inligting wat produsente in staat stel om ’n ingeligte besluit te kan neem. In hierdie boek word aandag geskenk aan aspekte soos die huidige onderstokgebruik, wingerdboukundige aspekte en aanpasbaarheid by grondtoestande. Dit bevat waardevolle inligting wat tafeldruifprodusente in staat sal stel om ’n onderstokkeuse vir hul spesifieke kultivars, grondtoestande en klimaat te kan maak. Op ’n akademiese vlak sal dosente hierdie boek kan gebruik as studiemateriaal vir hul studente. Die outeur slaag daarin om ’n magdom navorsingresultate op ’n inligtingryke, visuele en toeganklike wyse aan te bied, asook om praktiese riglyne ten opsigte van besluitneming by onderstokkeuses te verskaf.

Dr Jan Loubser

2 Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online