Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika
2 Verenigbaarheid en affiniteit van bo-en-onderstokkombinasies
Suksesvolle enting in die kwekery is ’n belangrike stap in die produksie van tafeldruifstokke. Verskeie probleme met enting van wingerdstokkies in die kwekery en stokke wat vrek na vestiging in wingerde, word die laaste aantal jaar toenemend gerapporteer. Die probleem word soms na verwys as “onverenigbaarheid” en soms as “affiniteit”. Verenigbaarheid is die vermoë van die onderstok en bostok om anatomies en fisiologies ná enting te kombineer (suksesvol te verenig) om ’n sterk groeiende geënte stokkie te lewer. Affiniteit verwys na die langtermyn produktiewe vermoë van die entkombinasie. Hoewel ’n onder- en bostok dus verenigbaar kan wees, kan swak affiniteit meebring dat die entkombinasie ná ’n paar jaar agteruitgaan en vrek. Verenigbaarheid kom tot uiting in dieselfde jaar as wat die enting gedoen is (in die kwekery ná bank enting of in die wingerd ná lug-enting), terwyl affiniteit eers tot uiting kom ná vestiging in die wingerd, twee of meer jare na enting, of een of meer jare nadat dit geplant is. Onsuksesvolle enting het groot negatiewe gevolge vir kwekerye en produsente. ’n Tekort aan geënte plantmateriaal van ’n spesifieke bo-en onderstokkombinasie veroorsaak dat sulke stokke duurder is as ander kombinasies. Hierdie situasie dra daartoe by dat produsente beskikbare bo- en onderstokke en nie noodwendig die beste kombinasie vestig nie. Onsuksesvolle enting het gevolglik ’n invloed op die beskikbaarheid van sekere bo-en- onderstokkombinasies van nuwe en nuut ingevoerde bostokkultivars. Met die vestiging van ses semi-kommersiële proewe, met Merbein Seedless en Sultanina H4 op verskillende onderstokke, was die vatpersentasie vir Merbein Seedless en Sultanina onderskeidelik 20.7% en 21.2%. Twee klone van 143 B Mgt is geënt met Merbein Seedless as bostokkultivar, waarna vatpersentasies van onderskeidelik 20.7% en 47.4% verkry is. Die vatpersentasie van beide bostokkultivars met Ramsey as onderstok was 50%. Die redes vir sulke mislukkings van Merbein Seedless en Sultanina met 143 B Mgt onderstok is grootliks onduidelik.
Swak vatpersentasie word dikwels toegeskryf aan die gehalte van die entmateriaal, enttegniek en kallusvorming, asook kwekery-omgewingsfaktore.
VERENIGBAARHEID kom tot uiting in dieselfde jaar as wat die enting gedoen is (in die kwekery ná bank enting of in die wingerd ná lug-enting).
AFFINITEIT kom tot uiting na vestiging in die wingerd, twee of meer jare ná enting of een of meer jare ná aanplanting. Verenigbaarheid Tabel 2 en Figuur 7 verskaf inligting oor die verenigbaarheid van verskeie entkombinasies van tafeldruifbostokkultivars en onderstokke. Die tabel en figure is saamgestel uit inligting van verskillende wingerdkwekerye vanaf 2012 tot 2016. Die vatpersentasie van gesertifiseerde stokke in wingerdkwekery (bank-enting) is bereken en word as maatstaf vir verenigbaarheid gebruik. Tabel 2 en Figuur 7, 8, 9 en 10 toon dat heelwat onderstok-, kultivar- en kloonverskille voorkom. Nie een van die bostokke toon op sy eie ewe goeie verenigbaarheid met al die onderstokke nie (byvoorbeeld P 1103 – 38.9%, Ramsey – 40.7%, R 110 – 36.2%, US 8-7 - 38% en R 99 – 36.3%, data nie aangetoon nie). Een spesifieke onderstok toon ook nie ewe goeie verenigbaarheid met al die bostokke nie (byvoorbeeld Sultanina H5 – 40.1%, Prime – 42.2%, Crimson Seedless – 49.4%, data nie aangetoon nie). Dit blyk dat die onderstok ’n groter invloed as die bostok op suksesvolle verenigbaarheid het. Daar is duidelike verskille in die verenigbaarheid van klone van bo- en onderstokke. Die gemiddelde vatpersentasie van al die bostokkultivars toon dat die verenigbaarheid vir al die onderstokke onder 50% is. Figuur 7 toon dat die beste verenigbaarheid verkry word met R 110 en P 1103 en die swakste met Ramsey en R 99.
18 Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika
Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online