Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika

I n 1982 is tafeldruifnavorsing oorgedra van NIVV (Infruitec) na NIWW (Nietvoorbij). Met die oorname van wingerdnavorsing was ’n aantal onderstokproewe in verskillende fases van ontwikkeling op Bellevue-proefplaas, Hexriviervallei proefplaas, asook op kommersiële plase. Hierdie proewe het hoofsaaklik bestaan uit onderstokkruisings van die Universiteit Stellenbosch (US-kruisings) wat op daardie tydstip vergelyk is met onderstokke wat in die tafeldruifbedryf gebruik was (Jacquez, Rupestris du Lot, Richter 110, Richter 99 en Ramsey). Die data en toestande van al hierdie proewe is geëvalueer en dié wat beëindig kon word of afgesluit moes word, is geïdentifiseer (Deist, 1997). Gedurende hierdie tydperk is die navorsing van tafeldruifonderstokke as ’n hoë prioriteit geïdentifiseer. ’n Nuwe generasie onderstokproewe is met ’n splitperseel ontwerp uitgelê. In hierdie proewe is “nuwe” onderstokke wat ingesluit was in wyndruifonderstokproewe, ’n aantal US-kruisings, asook onderstokke wat in die tafeldruifbedryf gebruik was, geëvalueer (Deist, 1997). Een van die beperkings van die “ou” konsepproewe was dat dit antwoorde vir slegs een bostokkultivar gegee het. Met die “nuwe” onderstokproewe is verskeie bostokkultivars gebruik in splitpersele, waar antwoorde rakende meer as een bostokkultivar op die verskillende onderstokke van dieselfde proefblok verkry kon word. ’n Baie suksesvolle proef van hierdie aard is deur die LNR Infruitec-Nietvoorbij op die Roodeplaat navorsingstasie van die LNR Groente en Sierplante buite Pretoria geplant en uitgevoer. Vier bostokkultivars is op agt verskillende onderstokke geënt. Hierdie 32 bo-en-onderstokkombinasies was deel van die eerste onderstokproef in die Noordelike Somerreënvalstreek (Deist, 1997). Nog twee sulke proewe is in die Wes Kaap geplant, een op Hexriviervallei-proefplaas (vyf bostokkultivars, wat met 16 verskillende onderstokke geënt is; 80 bo-en-onderstokkombinasies) en nog een by Nietvoorbij-proefplaas naby Stellenbosch (sewe bostokkultivars met 24 verskillende onderstokke; 168 bo-en-onderstokkombinasies). In 1996 is die data en die toestand van al hierdie proewe geëvalueer en dié wat beëindig kon word, of moes word, is afgesluit. Daar is besluit om die proef by Nietvoorbij te staak. Die proef by die Hexrivervallei-proefplaas is voortgesit tot in 2002. Met die vrystelling van twee nuwe belowende tafeldruifkultivars uit die LNR Infruitec-Nietvoorbij Meer oor die navorsing

se teelprogram in 1997 het die vraag ontstaan watter onderstok gebruik moet word. In 1997 is Regal Seedless en White Gem in twee afsonderlike persele gevestig op die kommersiële plaas Malanot (later La Ferme Derik) in Agter-Paarl. Elke bostokkultivar is op 11 verskillende onderstokke geënt. ’n Enkele bostokkultivar is op elk van hierdie persele geëvalueer, om praktiese redes – om wingerdboukundige bestuur van die proefblok binne ’n kommersiële opset te vereenvoudig. Die eerste tafeldruifonderstokproewe in die Benede Oranjeriviergebied is in 2008 geplant. Die klimaat en grond in dié gebied verskil geheel en al van dié in die Wes-Kaap. Die sukses van ’n geskikte bostokkultivar sou afhang van die sukses waarmee ’n gekose onderstok in die geharde klimaat aanpas. Margarodes was besig om onrusbarend in die gebied toe te neem en te versprei. Opnames voor die aanvang van hierdie proewe het getoon dat margarodes drie van die beste filloksera weerstandbiedende onderstokke (R 99, 101-14 Mgt en Rupestris du Lot) vernietig het (De Klerk, 1975). Verder is voorsien dat nuwe uitbreidings in die Benede Oranjeriviergebied grootliks op buitegrond met hoër temperature langs die Oranjerivier, wes van Kakamas, sou plaasvind. Hervestiging van wingerde het ook op groot skaal in die Benede-Oranjeriviergebied plaasgevind. Volgens Burger et al . (1972) was daar aanduidings dat die hervestigingsprobleem beslis meer in droër dele en op swaarder gronde onder alkaliese en braktoestande voorkom. Met die vestiging van Ramsey op wingerdgrond waarop voorheen Ramsey gegroei het, is min probleme ondervind. Die sukses van die hervestiging van wingerd met die meeste ander onderstokke was egter onbekend. In daardie tyd is aanvaar dat onderstokevaluering ’n langtermynproses is en dat dit vir 10 tot 15 seisoene moet voortduur voordat betroubare aanbevelings gemaak kon word. In ’n droogdruifonderstokproef wat oor 18 jaar gestrek het, is 28 onderstokke met Sultanina H5 as bostok geëvalueer. Dit is ook gebruik vir bepaling van die minimum getal dataseisoene wat benodig word om wetenskaplike aanbevelings te kan maak. Die resultate van hierdie ondersoek het getoon dat betroubare evaluering van onderstokke oor ’n korter tyd moontlik is, naamlik minstens agt seisoene van produksiedata (Avenant, 2014). ’n Korter evalueringsproses sal groot voordele vir die tafeldruifbedryf hê, veral omdat nuwe kultivars dikwels beskikbaar word, waarvoor onderstokke ook aanbeveel moet word.

Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika 11

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online