Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika

INLEIDING O nderstokke bied produsente ’n strategie om risiko’s wat betref wingerdprestasie te verminder. Alhoewel makstokke gewenste opbrengs druiwe van ’n hoë gehalte kan produseer, is die risiko hoog, omdat wortelstelsels van Vitis vinifera -wingerdstokke gevoelig is vir grondgedraagde plae soos filloksera en nematodes, siektes en ongunstige grondtoestande, soos swak voedingselementstatus of soutgehalte. Gebruik van onderstokke beperk talle van die probleme wat met die wortelsone verband hou. Om aanbevelings oor die mees geskikte onderstok vir ’n spesifieke situasie (’n bostok-grondtipe-klimaat scenario) te maak, is ingewikkeld. Navorsingsresultate van onderstokproewe wat uitgevoer is in verskillende gebiede en persele in Suid-Afrika, oor ’n tydperk van 27 jaar, toon prestasieverskille tussen verskillende bostokke wat geëvalueer is op dieselfde onderstokke op dieselfde perseel. Dit beteken dat een gegewe onderstok nie noodwendig die beste onderstok vir al die geëvalueerde bostokkultivars op die perseel is nie. Langtermynproefresultate toon dat die rangorde van onderstokprestasie verskil tussen seisoene. Gevolglik moet die kumulatiewe prestasie van elke bo-en onderstokkombinasie oor tyd geëvalueer word, ten einde betroubare aanbevelings te kan maak. ’n Minimum van agt jaar se kumulatiewe proefresultate is nodig. Dit bring dus mee dat behoorlike onderstokevaluering oor ’n lang termyn moet geskied. Probleme met oormatige opbrengste van swak gehalte druiwe kan in verband gebring word met uitermatige groei wat deur sekere onderstokkeuses en inherente sterk groeikrag van bostokkultivars veroorsaak word. Onderstokevaluering moet daarop gefokus wees om onderstokke te identifiseer of nuwe onderstokke te ontwikkel met groei wat toepaslik is vir die spesifieke bostokkultivar, met gekombineerde risikoverminderingsvoordele en eienskappe van uitstekende dravermoë om ekonomiese opbrengste van ’n optimale gehalte te lewer. Die LNR se Navorsingsinstituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn, naamlik die LNR Infruitec-Nietvoorbij, was betrokke by evaluering van onderstokke vir verskillende

tafeldruifkultivars in die Wes- en Noord-Kaap. Hierdie proewe is gebruik om ’n reeks onderstokke te sif vir aanpasbaarheid by ’n spesifieke kultivar, grond en terrein. Voor die begin van hierdie proewe was min of geen wetenskaplike resultate beskikbaar om geskikste onderstokke vir spesifieke bostokkultivars te kies nie, veral vir nuut geteelde kultivars en nuwe, ingevoerde kultivars. Die doelwitte van hierdie proewe was om: • die mees geskikte onderstokke vir tafeldruiwe te vind in terme van: - groei, opbrengs en gehalte, - lewering van hoër produksie sonder om gehalte te benadeel. • aanbevelings oor onderstokkeuse te maak vir: - verskillende grondsoorte, - spesifieke bostokkultivars, veral nuut geteelde kultivars. Al die proewe is uitgelê volgens standaard statistiese ontwerpe. In die proewe het behandelings (onderstokke) bestaan uit eksperimentele eenhede wat gewissel het van vier tot ses stokke per eenheid. Behandelings is ewekansig oor die proefperseel in blokke toegeken en vyf tot ses keer herhaal. Die proewe, wat nie op proefplase uitgevoer is nie, is deur die onderskeie deelnemende produsente bewerk en versorg. Wingerdboupraktyke is toegepas in proefblokke volgens standaard verbouingsriglyne vir die kultivar in die gebied. Om die uitkoms van proewe se resultate te kan verklaar en verduidelik is die volgende bepalings gedoen: grondmonsters is geneem om die pH- en plantvoedingstatus en chemiese eienskappe van die grond, asook om teenwoordigheid van grondplae en -siektes te bepaal. Die blaarsteelvoedingselement inhoud is by korrelset bepaal. Die virusstatus van die bo-en-onderstokkombinasies is ook bepaal. Die onderstokname wat gebruik word in die publikasie is volgens die Suid-Afrikaanse variëteitslys, soos in stand gehou deur die Registrateur van Plantverbeteringvrugtegewasse van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. (Anon, 2017).

10 Tafeldruifonderstokke in Suid-Afrika

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online