SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026
Ringelering Dit is die maak van ’n snit deur die lewendige bas rondom die stok met ’n spesiale mes of ringeleertang. Met ’n ringeleersagie of dubbellemringeleermes word ’n strokie lewendige bas rondom die stok verwyder. ’n Enkele snit met ’n gewone mes tot op die harde hout word soms ook gebruik, veral vir laat ringelering. Ringelering word gedoen om set te verbeter of om groter korrels na set te kry. Korrelaanhegting word ook verbeter. Oor die algemeen is ringelering ’n manipulasie wat indrukwekkende resultate lewer – korrels kan 25% of selfs meer vergroot. Die effektiwiteit van ringelering met ’n mes gedurende deurslaan om die kleur van swart en rooi druiwe te verbeter, wissel tussen kultivars. Ringelering word soms met ander manipulasies gekombineer. Ringelering is ’n praktyk wat gekom het om te bly en die meeste produsente maak tans daarvan gebruik. Neem kennis van die volgende praktiese punte om beter resultate te verkry: • Moenie ringeleersnitte te na aan mekaar maak nie omdat die wonde moeilik sal herstel. • Moenie jong of swak stokke en stokke dunner as 30 mm in deursnit ringeleer nie. • Moenie stokke wat enigsins onder stres is, ringeleer nie. • Moenie stokke te laat of twee keer in dieselfde seisoen ringeleer nie. • Ontsmet ringeleertoerusting na elke stok indien vlamsiekte ’n gevaar is. • Diens ringeleertoerusting gereeld. • Elke kultivar het sy eie resep ten opsigte van ringelering. Verwys na die bespreking van individuele kultivars. Uitdun of uitknip Met die hand Die korrels en laterale op ’n tros word uitgedun sodat die tros nie te vas raak nie. Dit word gewoonlik gedoen wanneer die korrels 10–15 mm in deursnit is, net voor die tros toemaak. Deur laterale of dele van laterale uit te knip, word die taak vinniger gedoen as deur individuele korrels uit te knip. Dit moet egter sorgvuldig gedoen word sodat dit nie die vorm van die tros belemmer deur gate (veral by die skouers) te knip nie. Afhangende van die kultivar kan óf die derde, vyfde, sewende en negende laterale óf die vyfde, sewende en negende laterale verwyder word. Die laterale word van bo na onder getel. Soms word die laterale net gelig en die onderste korrels op die lateraal afgeknip, in stede daarvan dat die hele lateraal verwyder word. Die ideaal is dat daar nie meer as 3–4 korrels per knoetsie moet oorbly na uitdunning nie. Trosse word met die hand gevoel om seker te maak dat die uitdunning voldoende is. Gewoonlik moet dit moontlik wees om na uitknip die vingers tot teen die sentrale as in te kry. Onthou dat korrels vanaf net voor deurslaan tot by oes met tot 30% kan uitsit. Soms is dit slegs nodig om ’n paadjie in die onderste derde van ’n tros te knip. Daar word op gevoel gewerk. Daar moet met die hand gevoel word of die tros genoeg uitgedun is. Net hierna word klein korrels in ’n aparte aksie uitgeknip. Daarna word nie verder uitgeknip nie. Hierdie metode is vinnig en bespaar baie arbeid. Met gibberelliensuur Verwys ook na die bespreking van gibberelliensuur op (bladsy 10) en die bespreking van individuele kultivars. Sommige kultivars kan met behulp van ’n lae dosis van gibberelliensuur in blom en aan die begin van set uitgedun word. Die beginsel is dat die gibberelliensuur ’n skielike lootverlenging op ’n kritiese stadium veroorsaak. Hierdie aktief-groeiende lote kompeteer • Verwyder ou bas voor die snit gemaak word. • Maak insnydings volledig rondom die stam. • Moenie stokke te diep of te vlak sny nie.
SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER 7
Made with FlippingBook Annual report maker