SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026
met trosse vir beskikbare koolhidrate en voedingselemente, wat dan blomme en korrels laat aborteer. Vir gibberelliensuur om effektief te werk, is sterk groei (minimum lootlengte van 80 cm by blom) en voldoende hitte (maksimum temperature bo 25°C en minimum temperature bo 15°C) nodig. Die uitdunproses kan tot vyf dae duur. Gevolglik moet die temperatuurvoorspelling vir die vyf dae vanaf die uitdundatum bestudeer word om die regte besluit ten opsigte van die ideale gibberelliensuurkonsentrasie te maak. Moenie blare breek voordat die uitdunspuit toegedien word nie. Die gibberelliensuur hoef nie noodwendig op die trosse te kom nie maar dit is baie belangrik dat die gibberelliensuur die hele stok deeglik moet benat. Vir elke kultivar is die aanwending gekies om die ideale effek en uitdunning te gee. By Prime ® , Grapaes (Early Sweet ® ), Sugraone (Superior Seedless ® ), Sugratwelve (Coachella Seedless ® ) en Ralli Seedless™, wat geneties geneig is tot die ontwikkeling van bokhael, is die tyd en dosis so gekalibreer dat die bokhaelkorreltjies (wat onvolledig bestuifde korrels is) tydens set aborteer. Dit is dus nodig om die uitduntoediening tydens set te maak, wanneer die kappies geval het en die vrugbeginsels 2–3 mm in deursnee is. Trim van trosse Dit is die regknip van trosse om die gewenste fatsoen te verkry. Dit word gewoonlik saam met uitdunning gedoen en behels die verwydering van alle punte en ankers wat abnormaal uitsteek. Trosse behoort 500–800 g te weeg. Vir plastiekbakkies (punnets) word ’n losser tipe tros van 400–500 g verkies. Afgooi of oesbeheer Afgooi is die naam wat produsente gebruik vir die proses om die optimum oeslading per stok vir ’n betrokke kultivar te bewerkstellig. Die korrekte oeslading is deurslaggewend vir die uiteindelike sukses van tafeldruifproduksie. Die ideaal is om ongewenste trosse so gou as moontlik na set af te gooi en slegs die optimale aantal trosse te behou. Die oorblywende trosse kan dan die maksimum voordeel van ’n kleiner oeslading op ’n baie vroeër stadium kry en dus onder andere groter korrels en beter kleur en smaak ontwikkel. In praktyk is dit dikwels net na set nog moeilik om te bepaal watter trosse die beste vorm gaan hê. Gevolglik word trosse meestal eers afgegooi wanneer die korrels 5–7 mm in deursnit is. By sekere vrugbare kultivars, soos Sugrathirteen (Midnight Beauty ® ) en IFG Ten (Sweet Globe™), word ’n voorlopige afgooi reeds voor blom aanbeveel ten einde beter set te kry. Te veel trosse in blom kan die vlakke van koolhidrate en voedingselemente verdun en dus afspeen vererger. Die goue reël is om met net een tros per loot in blom te gaan. Die aanbeveling is oeslading plus 25% trosse in blom. Oopbreek (blarebreek) Dit is die wegbreek van die onderste blare op ’n loot om beter deurlugting en ligdeurlating toe te laat, om skaaf van korrels te voorkom en om plantgroeireguleerders en gewasbeskermingsprodukte beter te laat penetreer. Wingerdblare begin koolhidrate bydra wanneer hulle ongeveer een derde van hulle uiteindelike grootte bereik het. Hulle fotosinteer maksimaal wanneer hulle volgroei is. Daarna neem fotosintetiese aktiwiteit oor die volgende ongeveer 90 dae geleidelik af, totdat die blaar nie meer ’n bydrae maak nie.
8 SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER
Made with FlippingBook Annual report maker