SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026
Punt Dit is die verwydering van die onderste (± 5 cm) gedeelte van trosse met die hand. Dit word gewoonlik net voor of gedurende blom gedoen en het ’n beter set, veral in die onderste gedeelte van die tros, tot gevolg. Inkort Dit is die finale inkort van ’n tros na die gewenste lengte deur die gedeelte wat te lank is af te knip. Dit word gewoonlik kort na set gedoen. Verskillende maatstawwe geld, byvoorbeeld die lengte van ’n uitknipskêrtjie, ’n hand breedte en die lengte van ’n sigaretaansteker. Soms word ook ingekort na ’n getal laterale. Die moderne neiging in die tafeldruifbedryf is om te werk met ’n optimum aantal korrels per tros vir ’n spesifieke kultivar (Tabel 3). Sien bladsy 98. Afspeen of abortering van korrels Afspeen verwys na die abortering en afval van blomme, of van klein korrels (2–5 mm) net na blom tydens set. Sekere kultivars soos Alphonse Lavallée, Sugrathirteen (Midnight Beauty ® ), Sugrathirtyfour (Adora Seedless ® ) en IFG Ten (Sweet Globe™) is die belangrikste kultivars wat geneig is om af te speen. Gevoeligheid vir afspeen is waarskynlik geneties. Ondervinding van 30–40 jaar gelede met Alphonse Lavallée het getoon dat vlakke van koolhidrate en ander voedingselemente tydens blom en set ’n groot rol speel. Die aantal trosse per stok is ook belangrik. Wanneer daar te veel trosse is, word plantgroeireguleerders soos sitokinien en ouksien in trosse verdun sodat daar nie genoeg is om te verhoed dat korrels afspeen nie. Deur trosse te verminder, verhoog produsente die beskikbare koolhidrate, voedings elemente en plantgroeireguleerders per tros en dus die geleentheid vir korrels om te set. Daar is baie navorsing op set in Alphonse Lavallée gedoen. Die gevolglike aanbevelings om set te verbeter is ook op ander kultivars van toepassing en word hieronder opgesom. Voor blom Behou een tros per loot. Deur trosse te verminder, word die koolhidraatvlakke van oorblywende trosse verhoog. Om alle trosse te los, veral by baie vrugbare kultivars, kan tot oormatige afspeen aanleiding gee. By 5% blom Breek blare om trosse weg en punt en skouer trosse, veral groot trosse. Die basale blare lewer op hierdie stadium nog nie ’n groot bydrae tot die koolhidraatvlakke deur fotosintese nie. Deur trosse te verklein, word die koolhidraatvlakke in die oorblywende gedeeltes van die tros verhoog. By 10% blom Top lote. Aktief groeiende lote kompeteer met trosse vir beskikbare koolhidrate en voedingselemente. Die strafheid van top word bepaal deur die groeikrag en temperatuur. Hoe sterker die groei en hoe warmer, hoe groter die gedeelte wat afgetop word. By 50%–80% blom Met ekstreme toestande (hoë temperature en geil groei) kan stokke by 50%–80% blom geringeleer word. Deur die floëem te onderbreek, word die afwaartse vloei van koolhidrate gestop, wat die koolhidraatvlakke in die trossone verhoog. Sedert die navorsing op Alphonse Lavallée het plantgroeireguleerders soos sitokinien beskikbaar geraak, wat set kan bevorder as dit teen dosisse van 1–2 dpm tussen 50%–80% blom gespuit word. Let wel dat sitokinienbevattende produkte nog nie vir hierdie doeleinde op tafeldruiwe in Suid-Afrika geregistreer is nie. Sitokinien bevorder slegs set wanneer dit voorkomend aangewend word. Dit verminder nie afspeen wanneer dit eers by 3–4 mm korrels (set) toegedien word nie. Sitokinien het egter nadele wanneer dit tydens blom gebruik word. Klein bokhaelkorrels mag bly sit en ronder korrels word gevorm. Kleurontwikkeling kan ook benadeel word.
6 SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER
Made with FlippingBook Annual report maker