SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026

Voorwoord

Dit is nodig om hierdie boek gereeld op te dateer aangesien nuwe kultivars bykom en tegnieke vir bestaande kultivars gedurig verfyn word. Die produksie van uitvoertafeldruiwe van aanvaarbare gehalte is gespesialiseerd en arbeidsintensief. Geen tafeldruifkultivar kan vandag suksesvol verbou word sonder dat sekere manipulasies op die regte tyd gedoen word nie. Om goeie resultate te behaal moet hierdie manipulasies presies en doeltreffend uitgevoer word. Arbeidskoste is die tafeldruifprodusent se grootste enkele uitgawe en dit styg jaarliks. Gevolglik word tegnieke gedurig aangepas en ontwikkel om arbeidskoste in die voorbereiding van kultivars te beperk en onnodige manipulasies uit te skakel. Hierdie riglyne is saamgestel om die maksimum produksie van Klas 1-uitvoerdruiwe per hektaar te bevorder. Daar is ’n balans tussen gehalte, prys en uitpakpersentasie. Hoe beter die vrugkwaliteit, hoe hoër die verwagte prys. Wanneer produsente egter soveel moontlik druiwe in uitvoerkartonne probeer kry, begin die gemiddelde gehalte val en die verwagte prys daarmee saam. Daar sal ’n punt wees waar die addisionele kartonne nie vir die laer gehalte en prys kompenseer nie. Elke produsent moet besluit waar hy in hierdie model inskakel. Volgens ons kennis is die aanbevelings in hierdie boek die metodes wat die beste resultate gee. Dit is ook in die praktyk getoets. Die bydraes van telers en patenthouers van kultivars, produsente wat self geëksperimenteer het en navorsers word erken. Die inligting van gepatenteerde kultivars is deur telers en patenthouers verskaf.

Alhoewel alle moontlike pogings aangewend is om korrekte inligting te verseker sodat produsente die beste resultate kan verkry, aanvaar die outeur en die uitgewers nie aanspreeklikheid vir enige verliese gely as gevolg van die toepassing of nie toepassing van hierdie riglyne nie. Produsente moet hulle tegniese adviseurs raadpleeg voordat hulle enigiets in hierdie boek implementeer. Lees asseblief die inleiding noukeurig deur. Daar is sommige begrippe wat verander het en nuwe inligting wat bygekom het.

Veranderinge vanaf vorige uitgawes l Die kultivar-spesifieke inligting is in ’n opgesomde formaat. l Net die belangrikste kultivars is ingesluit. l ’n Afdeling oor die beginsels van snoei is bygevoeg. l Die ontwikkeling van ’n druiwekorrel word beskryf. l Die fisiologie van afspeen word bespreek.

4 SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER

Made with FlippingBook Annual report maker