La Rochelle Yearbook 2025
TRIBUTE TO
Huldeblyk MEV. MARIANNA SCHOEMAN
En Avant
Elvis Blue se lied “ Spore” het Marianna Schoeman se hart diep geraak – en hoe gepas is dit vandag, waar ons die spore wat sy oor bykans 45 jaar by La Rochelle gelos het eer. Mev. Schoeman, “Schoemie”, of “Ziets” soos sy liefdevol bekend was, was meer as net ’n kollega en onderwyseres. Sy was ’n mentor, ondersteuner, en vriendin, ’n rots waarop baie van ons kon bou. Haar nalatenskap leef voort in die leerders, kollegas en oud-Larries wat sy oor die jare geraak het. Dit was duidelik sigbaar in al die boodskappe op sosiale media. ’n Familie wat sy diep lief gehad het Marianna se kinders en kleinkinders was haar trots. Sy het dikwels met glinsterende oë oor hulle gepraat – en oor haar familie in die Oos-Kaap waar haar wortels diep lê. Hiermee saam het sy ook ’n groot respek vir haar ontslape skoonouers gehad. Stories wat sy vertel het van die aanvanklike ritte met die Volla en ure op die pad sal my altyd bybly. Ek het in die laaste paar maande gesien watter eienskappe van haar in Annare en Burger, haar kinders, se volwasse lewe manifesteer: Annare: Jou positiwiteit, vrolike aanslag en hardwerkend heid; Burger met jou humorsin/kwinkslae soos jou ma en jou omgee en sorgsaamheid ... Koester dit! ’n Lewe van toewyding Marianna het haar loopbaan aan La Rochelle gewy – ’n lewe van diens, dissipline en passie. Haar kinders het op sportvelde grootgeword en selfs juf. Longland het van tyd tot tyd oppasser gespeel. Haar betrokkenheid was ongeëwenaar: • Eers as afrigter by netbal, later Elbie se bestuurder en toe as vurige ondersteuner en begeleier van atletiek en skooltoere wat plaaslik, provinsiaal, nasionaal en oorsee plaasgevind het. • Sy was ook begeleier by gr. 8-kampe, musiekblyspele, kooraande en talle All Girls-byeenkomste. Sy het selfs reëls neergelê tydens toere/kampe wat “gelate” (soms) aanvaar is.
“Ek weier om te glo dat ons kleur verdof. Dat die dinge hier ons uit sal stof.
Ons kan kies wat ons glo, ons kan kies wat ons dink. Ons kan kies hoe ons voel en hoe ons woorde klink. Kry my op die pad, die pad.
Waar die dromers loop. Die son oor ons skouers Ons oë vol hoop. Kom saam, kom saam Dis al wat dit kos
Ek en jy is gemaak Om spore te los!!” Elvis Blue, “Spore”
2 | Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School
Made with FlippingBook - Online catalogs