La Rochelle Yearbook 2025

ANNUAL REPORT – FAREWELL

Na 37 geseënde jare in die onderwys, waarvan die laaste nege by Hoër Meisieskool La Rochelle was, neem ek met ’n hart vol dankbaarheid afskeid van ’n roeping wat my lewe verryk en my hart met kosbare skatte gevul het. Om deel te wees van ’n gemeenskap van akademiese uitnemendheid, leierskap en waardes was vir my ’n besondere voorreg.

By La Rochelle het ek die voorreg gehad om jong leiers te sien ontwikkel in vroue met visie, integriteit en die moed om hul plek in die wêreld vol vertroue in te neem. Ware leierskap lê in diensbaarheid, empatie en die moed om verantwoordelikheid met oortuiging te dra. Ons slagspreuk hou ons op koers: “Larries lead by example.” Van die studenteraad van 2019/2020 onthou ek: “One flower, many ways.” Elke leerder is uniek, maar saam vorm ons ’n pragtige geheel – dit is die hartklop van Larrie-wees. Terwyl ek nou meer tyd saam met my geliefdes gaan koester, dra ek die herinneringe, glimlagte en inspirasie van elke leerder en kollega saam. Mag die gees van uitnemendheid, warmte en verbondenheid by La Rochelle bly voortleef. En Avant. Mev. Hannatjie Naudé

In die Fisiese Wetenskappe was dit ’n vreugde om kinders te sien groei – nie net in kennis nie, maar ook in karakter, selfvertroue en nuuskierigheid. Die oomblikke waarin vrae verander in begrip, en idees in ontdekking, sal ek altyd koester. Drie jaar gelede het ek by La Rochelle se voordeur ingestap, onseker of ek die onderwys beroep wil betree. Vandag kyk ek terug en ek kan nie meer dankbaar wees dat hierdie geleentheid oor my pad gekom het nie. Die afgelope drie jaar het my geleer dat daar min beroepe is wat soveel betekenis en vreugde bring soos onderwys. Soms neem die lewe ons op onverwagse draaie, en vandag groet ek die onderwys met een van die dankbaarste harte denkbaar. Nooit in my wildste drome sou ek kon dink hoe diep kinders onder ’n mens se vel kan inkruip nie. Ek is dankbaar vir elke leerder vir wie, en by wie ek iets kon leer, of dit in die klas, op die netbalbaan, in die koshuis of sommer net deur ’n geselsie op die stoep was. Elke glimlag, vinnige drukkie, grappie in die klas en ‘daily fit check’ het my dae met soveel vreugde en liefde gevul. Julle het my geleer dat die lewe nie altyd so ernstig hoef te wees nie en dat vreugde dikwels in die klein oomblikke lê. Ek het geleer hoe kosbaar kinders is en dat ons as volwassenes hulle net soveel nodig

het, as wat hulle ons nodig het. Aan my kollegas, dankie vir drie ongelooflike jare van leiding, ondersteuning en opoffering. Ek het soveel by julle geleer, nie net oor onderwys nie, maar oor

geduld, deursettingsvermoë en spanwerk. Ek is bevoorreg dat ek nie net kollegas gehad het nie, maar rolmodelle en lewenslange vriendinne wat ek met my saamneem. Ek stap weg van La Rochelle met ’n hartseer, maar met ’n oorvol hart. Hierdie skool, en sy mense het vir altyd ’n deel van my storie geword en ek sal vir altyd hierdie voorreg koester. Mej. Leoni Maree

Ná drie wonderlike jare by HMS La Rochelle besef ek: wiskunde leer jou baie, maar dit leer jou nie hoe om totsiens te sê nie. My tyd as ’n Larrie was vol groei, nuwe uitdagings en die mooiste herhinneringe wat ek vir altyd sal koester. Aan al my “saaymannetjies” – julle is kosbaar! Dankie dat julle my klas gevul het met energie, grappies en lewenslesse. Julle het my inspireer, laat lag en hard laat dink. My wens is dat julle nooit bang sal wees vir moeilike probleme nie – in die lewe én in wiskunde, dis juis uitdagings wat jou wys hoe sterk jy is. Onthou, die lewe gaan nie altyd oor die regte antwoord nie, maar eerder om nooit op te hou vrae vra nie. Werk hard, maar lag nog harder – balans is die geheim tot sukses. Meet jou waarde nie aan punte nie, maar aan die goedheid wat jy saai en die moeite wat jy doen. En laastens, glo in jouself, bly nuuskierig en bly getrou aan wie jy is.

Aan my kollegas – dankie vir al julle liefde, ondersteuning, raad en inloer. Hier het ek vriendskappe gebou wat ek lank saam met my sal dra. Weet dat God se guns altyd oor julle is en dat julle gekies is vir ’n uitsonderlike roeping. Alhoewel ek nou ’n nuwe hoofstuk aanpak, sal ek La Rochelle vir altyd onthou en ook altyd ’n bietjie geel in my hart saam dra. Baie liefde, Mej. Rentia Saayman

16 | Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School

Made with FlippingBook - Online catalogs