La Rochelle Yearbook 2024
ONTLUIKENDE SKRYWERS
Sit ’n nuwe bril op Emosies is soos ’n bril. Alles wat jy deur die lense sien, laat jou op ’n sekere manier dink en voel. Die vraag is net: dra jy die regte bril? Emosies is daardie gevoelens wat jy ervaar wanneer daar sekere gebeurtenisse oor jou pad kom. Dit bepaal hoe jy daagliks optree en voel oor jou lewe. Emosies is die aspekte wat jou ’n mens maak, maar dit kan ook baie gevaarlik wees wanneer jy die verkeerde emosies ervaar. In vandag se wêreld is mense geneig om te verdrink in hulle eie emosies. Almal ken daardie gevoel wanneer jou hart tot in jou skoene sak omdat iemand jou teleurgestel het. Daardie gevoel wanneer jou hart in duisend stukke breek wanner iets wat jou eers gelukkig gemaak het die grootste hartseer veroorsaak. Die slegste gevoel is wanneer jy beself dat jy nie goed genoeg is nie. Al hierdie emosies veroorsaak dat jy die verkeerde bril dra. Hierdie bril is eintlik ironies omdat dit jou blind maak. Dit laat jou vaskyk in die negatiewe dinkge wat gevoelens van haat, seer en ongeluk veroorsaak. Hierdie bril verwoes mense se lewens omdat hulle nie die groter prentjies sien nie. Hulle beself nie dat hulle dalk net ’n ander bril moet opsit nie. ’n Bril wat elke negatiewe emosie met ’n positiewe een vervang. Sit een van die belangrikste brille op: aanvaarding. Aanvaar dat die lewe nie altyd uitdraai soos wat jy dit beplan nie. Jy moet aanvaar dat jy ’n mens is met emosies en dat jy somtyds seer gaan ervaar. Jy moet net leer om dit te hanteer. Aanvaar die dinge in jou lewe wat buite jou beheer is. Aanvaar dat sekere mense nie altyd is wie jy gedink het hulle is nie. Aanvaar dat mense gaan kom en gaan in jou lewe – met ’n doel. Aanvaar jouself en die veranderinge wat in jou lewe plaasvind. Dra die bril van respek. Leer om respek te hê vir almal om jou. Wanneer jy respek toon teenoor ander beteken dit dat jy hulle besluite aanvaar - maak nie saak hoe jy persoonlik daaroor voel nie. Die belangrikste is dat jy respek vir jouself moet hê. Dit beteken dat jy moet wegloop van ’n situasie waar iemand nie vir jou respek betoon nie. Jy moet selfrespek hê om te weet jy verdien beter. Sit die bril van liefde op. Liefde is een van die grootste geskenke op Aarde. In die Bybel sê dit liefde is geduldig, liefde is vriendelik en is nie jaloers nie. Liefde hou nie boek van die kwaad nie. Liefde hou aan hoop en verduur alles. Dus moet jy leer om jouself lief te hê. Om jouself lief te hê beteken dat jy jouself aanvaar. Jy sien na jouself om en probeer nie om ander te beïndruk nie. Wanneer jy besluit om jou hart met liefde te vul, is daar nie meer plek vir haat nie. Die lewe is een groot reis met stampe en stote. Maak net seker om jou bril van negatiewe emosies af te haal en ’n nuwe een op te sit. Danika Smuts – Graad 12
Onthou-oomblikke maak jou lewe die moeite werd Ek onthou…
As iemand my moet vra om myself te beskryf, sal ons ‘n baie lang gesprek hê. Ek kan myself seker opsom. ‘n Dromer. ‘n Storieverteller. Sielvol. Vurig. Net ‘n doodgewone blou oogmeisie wat alles te intens voel. Sy dink ‘n bietjie te veel – nes die meisie wat haar potlood kou. Maar wat maak dit tog saak? Daardie gesprek sal net woorde sonder konteks wees. My identiteit word ingekleur met onthou-oomblikke wat soos die eerste tekens van dagbreek my horison verhelder. Tydens die moeilikste seisoene in my lewe, toe ‘n donker kleed van woede en pyn oor my skouers gehang het en die klein dogtertjie in my byna versmoor het, het herinneringe my gedra. Lang somerdae in die swembad. Koue lug wat my neusgate brand terwyl ek met my vriendinne deur die speelgronde by die skool stap. Daardie herinneringe was ‘n sagte plek in die donker waar die dogtertjie kon wegkruip terwyl ek moes baklei en worstel. Sy het oorleef en kon, nadat die storm verby is, na my toe terugkeer. Dis vreemd hoe herinneringe soms so duidelik is, maar niks beteken nie. Dan is daar herinneringe wat my asem steel - selfs al kan ek hulle nie ten volle herleef nie. Ek onthou die laaste drukkie in die parkeerarea van die lughawe van ‘n geliefde wie se lewe te vroeg kortgeknip is, maar dit kan net sowel my verbeelding wees. Ek onthou hoe dit voel om verlief te wees. Wel, was ek werklik verlief? Ek weet nie, maar sy stem en sy lag is so helder in my geestesoog dat ek nie hoef terug te dink nie. Dit skuil in drome, stiltes en musiek en vat my terug na die warm gevoel in my are wat my altyd laat dink aan somer en stadsliggies. Deesdae is die reuk van somerreën en donker blomme ‘n skaduwee wat terugflitse van adrenalien en ‘n vreemde rustigheid herroep. Sielvolle oomblikke. Humor. Woorde wat meer as een storie vertel. Mooi herinneringe wat die somtotaal van een van die beste ervarings van my lewe skep. In die sagte melancholie van die skemer besef ek weereens dat onthou-oomblikke jou lewe die moeite werd maak. Dit ontlok emosies wat die kamers van jou hart met skilderye bedek. Onthou-oomblikkke versag die donker skadu’s en skerp hoeke van verlies. En miskien, net miskien, as jy jou mooiste herinneringe in die stilte van die nag met die wind en sterre deel, sal breukdele van jou bestaan oorbly… lank nadat jy weg is. Megan Jansen – Graad 11
Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School | 35
Made with FlippingBook - Online catalogs