La Rochelle Yearbook 2024

ONTLUIKENDE SKRYWERS

Die verkeerde tyd, die verkeerde plek… Dit was iets so eenvoudig soos ’n Amajoya-suiglekker. Dinsdae-oggende voor skool sit ek, die koshuishoofmeisie en die skool se twee hoofmesisies in ons skoolhoof se kantoor. Die opkomende rekordeksamen, uitstapdag en interskole word bespreek. Ek beloer die poerselein bak in die middel van die tafel. Binne in lê aarbei-kaaskoek gegeurde Amajoya-suiglekkers. Dit voel byna soos vergoeding elke maal wanneer ons elkeen ’n lekkertjie vat net voordat ons die kantoor verlaat vir register. Wanneer ek en my broer na kerk vir my ouma by die rusoord gaan aflaai, word ons eers ingenooi vir ’n koppie stokkiestee. “Julle kuier altyd net vir vyf minute,” weerklink my ouma se smekende gekerm. Ouma vra soos altyd uit oor my matriekafskeidrok en kêrels. ’n Mens sou sweer alle oumas is dieselfde. Wanneer ons “vyf minute” nou eers aangestap het, is ek en my broer haastig om by die huis te kom. Ouma sal haar bewende hand in die glas lekkerpot druk en ’n hele klomp botterkaramel Amajoya-suiglekkers in my baadjiesak druk terwyl sy my belowe dat dit nie vet maak nie. Dan eers, nadat ’n lipstiffie-soen op ons voorkoppe geplak word, mag ons kar se kant toe stap. Elke vakansie stap ek by tannie Mariaan se salon in. “Net punte?” vra sy my wanneer Dani klaar my hare gewas het. Dis net skinderstories en familiedrama wat uitgedeel word. Gelukkig is tannie Mariaan se beradersessies gratis. Ek stap daar uit met ’n nuwe kapsel en nes elke ander vakansie, twee koffie Amajoya-lekkers. Een vir my en een wat ek skelm vir Dani deur die agterste venster gooi. Af en toe gaan maak ek ’n draai by ons huisdokter om bloed te trek. Solank hy tot by drie tel, is ek nog piekfyn. Wanneer al my buisies eers getrek is en die stukkie watte aan my arm vasgeplak is, kan ek padgee vir die volgende pasiënt, maar voordat ek heeltemal verdwyn, roep die dokter my terug om ’n bederfie te gaan haal. Die suikervrye Amajoya-lekkers lê snoesig langs mekaar in sy lessenaarlaai. “Dankie, Dokter,” sê ek en verdwyn weer agter die deurkosyn. Ek het nooit van tevore ’n slegte verhouding met Amajoya suiglekkers gehad nie. Hulle is lieflik. Hulle was lieflik – totdat ons my sussie wou gaan optel by die speelskooltjie. Ek en my ma het ingestap by absolute chaos. Dit was selfs in die Huisgenoot: “Vierjarige verstik aan geliefde lekkerny.” Dit moes nie so gewees het nie. Die verkeerde tyd, die verkeerde plek… Dit was iets so eenvoudig soos ’n Amajoya-suiglekker. Marcél Dippenaar – Graad 12

Gemmerkoekies Toe ek nog in die laerskool was, het ek Saterdae vir Ouma op die plaas gaan kuier met een doel voor oë: Ons sou koekies en beskuitjies bak. Of dit soetkoekies was vir die Kersmark, vlakoekies vir die kerkbasaar of malassekoekies vir die droogtehulp se fondsinsameling het nie saak gemaak nie. Dit was tog elke keer ’n ander vorm en koekie. Een Saterdag was wel anders as tevore. Ek was reeds op pad plaas toe. Buksie het my byna omgeduik toe ek by die kar uitklim en Ouma het op hom geskree om te gaan lê. Toe ek by die kombuis instap, het Poplap my met ’n blik-stem vanuit haar ysterhok gegroet en haar lyfie blitsig geskud sodat die vere oppof. Boerseep het in die hoek van die kombuistafel gestaan en Oupa se pyp en tabbak het oor die toonbank langs die draadloos gestrooi gelê. Ons het die koekies gebak – soos byna elke Saterdag. Maar dit was nie soet soos ’n konfytkoekie nie, ook nie verslawend soos die pekanneutkoekies nie en beslis nie so begeerlik soos die warm suurlemoenbeskuitjies nie. Daardie dag se gebak was niks meer as ’n vals belofte nie. Die versiersel-gesiggie het my aangestaar met sy Smartie ogies en roerloos vasgedruk gelê onder die Jellytots-knope. Elkeen se grootte was presies eenders, want dieselfde koekiedrukker het elke lyfie identies uitgesny. Hulle taamlik fraai versierd daar op die afkoelrakkies uitgestrek gelê. Maar sodra jy ’n hap gevat het, het al jou verwagtinge ineengestort. Die kruie het ’n byna bitter nasmaak in jou mond gelos – veral as die gemmer eers deurgebreek het. Ek kon nie verstaan waarom ’n koekie van buite so mooi opgemaak kon wees, maar so teleurstellend kan smaak nie. Dit lyk dan bloot na ’n modepop. Nou sit ek, jare later, in matriek en ek verstaan nou wat Ouma se woorde beteken het toe sy my hartseer gesig sien nadat ek die gemmerkoekie geëet het. Daar is te veel mense in hierdie wêreld wat na aardse begeertes streef. Mense – veral die tieners rondom my – kyk met verlange in hulle oë na mode en die nuutste treffers op winkelrakke. Almal lyk later soos kringpoppies wat uit papier geknip word en ewe vrolik handjies vashou, maar daardie mense is nie juis gesond in hulle binneste nie. Dít was die prentjie wat my ouma vir my probeer skep het. Jy hoef nie jouself te verander om soos al die ander in die groep te lyk nie. Solank jy gelukkig is en ’n eerlike lewe ly, is jou visie reg. Wees eerder ’n gelukkige Marie-beskuitjie as ’n pratig versierde, maar bitter gemmerkoekie. Marcél Dippenaar – Graad 12

34 | Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School

Made with FlippingBook - Online catalogs