La Rochelle Yearbook 2022

Opgedra aan

D A N K D I E N S ‒ D . C . L E RO U X

Ek was bevoor reg om Di nsdag by d i e open i ng van d i e skoo l i e t s van Me j . Le Roux me t d i e dog t er s en per sonee l t e dee l . Toe ek daar op die verhoog sit en kyk na die pragtige jong gesigte, die dissipline, respek vir gesag en die dogters se waardering vir mekaar se prestasies, was ek dankbaar, want in die onderwys en in skole het baie dinge verander, maar by La Rochelle is daar nog tradisies en waardes wat rotsvas bly staan. As mej. Le Roux daar was, sou sy baie trots gewees het. Christa le Roux het op ’n plaas naby Willowmore in die Oos-Kaap grootgeword. Sy was haar ouers se enigste kind en haar pa het haar elke oggend skool toe geneem en namiddae gaan haal. Sy het dus ’n baie beskermde lewe gelei. Daar is toe besluit dat sy vir die laaste twee jaar van haar skoolloopbaan na La Rochelle in die Paarl sal gaan. Dit moes nogal ’n aanpassing gewees het, want skielik was sy weg van die bekende, haar ouers en in die nuwe skool met groot geboue en baie dogters. Sy het in die koshuis gebly en baie goed aangepas, want sy het van die streng reëls gehou! Sy was baie hardwerkend en toegewyd en het ure aan haar skoolwerk bestee. Dit was so erg dat die skoolhoof ’n senior dogter gevra het om haar namiddae vir ’n stappie te neem. Die personeel het gou besef dat die jong dogter ’n bo-gemiddelde student is en sy het dit bewys toe sy aan die einde van Matriek die beste prestasie in die Kaaplandse Senior Sertifikaat-eksamen behaal het. Sy het die hoogste punte van al die kandidate in die Wes-, Oos-, Suid-en Noord-Kaap behaal. Dit was ’n baie besondere prestasie! Sy het haar studies aan die Universiteit van Stellenbosch voortgesit en die ’n BA-graad, Honneurs, Onderwys diploma en Meesters-graad behaal. Haar eerste onderwyspos was in Cradock waar sy Afrikaans aan die Rocklands High School for Girls’ onderrig het. Sy het later die adjunk-hoof geword en toe mej. Grundling, wat die hoof van La Rochelle was, besluit om aan die einde van 1962 af te tree, het Christa vir die pos aansoek gedoen. Op die baie jong ouderdom van 32 word sy dus skoolhoof van Die Hoër Meisieskool La Rochelle,’n ongekende prestasie. Sommige van haar oud-onderwysers was nog hier en haar Wiskunde-onderwyseres, mej. Nel, was die onderhoof. Daar was baie afgetrede onderwyseresse wat haar van raad wou bedien, maar sy het presies geweet wat sy wil doen en hoe sy die skool vorentoe gaan neem. Mejj. Nel en Muncmeyer, wat Duits onderrig het, was baie behulpsaam om haar aanvanklik by te staan. Die dogters het besluit dat die mooi, jong skoolhoof ’n bynaam moet kry en met haar voorletters van D.C.in gedagte, het hulle haar Daisy genoem en dis ’n naam wat deur die jare en ek glo in die toekoms, met baie liefde, deernis en respek gebruik sal word. Daar was goeie jare met prestasies op akademiese, sport-en kultuurgebied, maar ook moeilike jare wat die jong skoolhoof tot die uiterste beproef het. Gimnasium Seunskool het ’n ko-ed-skool geword en ons het ons broerskool en graad-7 dogters verloor wat verkies het om na die nuwe ko-ed-skool te gaan. In die sewentigs het die onderwysdepartement besluit dat die Paarl nog ’n ko-ed skool nodig het en daar was sprake dat Boys’ High, Girls’ High en La Rochelle een skool gaan word. Die Paarl was in opstand, maar gelukkig was daar ’n oud-leerling van Boys’ High wat ’n grootkop in die politiek was, wat die

hele idee nek omgedraai het en ons kon ontspan. Daar was ook skoolkomitees met wie sy koppe gestamp het, maar deur dit alles het sy vasberade die La Rochelle-skip op koers gehou. Een hoogtepunt was dat die lang gekoesterde droom van ’n eie swembad bewaarheid is. Oud-leerlinge deur die jare kan vertel hoe hulle geld ingesamel het en nooit in die koel water kon duik nie. Mej. Le Roux was baie streng en oud-leerlinge sal kan vertel van roklengtes, kuiwe wat bokant die wenkbroue moes wees, vulpenne wat gebruik moes word en vele meer. Daar was twee tuisnaweke vir kosgangers in die kwartaal, Sondae gaan almal kerk toe in wit rokke in die somer en donkerblou rokke in die winter en vele meer reëls. Ons as personeel is nie gespaar nie. Sy het die voorbeeld gestel en dieselfde van ons verwag. Sy het voor haar klas gestaan, nie gesit nie, elke minuut van die periode is gebruik en ’n dame dra sykouse. Lg, was baie erg vir ons, want die Paarl raak warm in die somer! Onthou iets soos lugversorgers in skole was ongekend. Teen die einde van haar hoofskap het sy ons toegelaat om in die somer sonder sykouse skool toe te kom. Nodeloos om te sê dat langbroeke total verbode was. By die jaarlikse prysuitdeling het sy altyd ’n lang aandrok gedra en ons het ons verkyk aan die pragtige statige dame. Sy het die hele aand met grasie en byna alleen, foutloos hanteer. Dogters wat by die prysuitdeling pryse van mense buite die skool ontvang het, moes ’n bedankingsbriefie skryf en nadat sy die spelling en taalgebruik gekontrolleer het, is dit gepos. Dit is goeie maniere. Sy was streng, maar sy was vir ons almal ’n voorbeeld van hardwerkendheid, toewyding, nie net in skoolwerk nie, maar ook in sport en kultuur. Sy was vir ons ’n inspirasie en het ons aangevuur om harder te werk . Sy was op hoogte van elke dogter se prestasie en dames wat nie na vermoë presteer het nie, is na die kantoor ontbied en met haar aansporing en hulp het hul punte gou verbeter. Menige oud-leerling sal hiervan kan getuig. Mej. Le Roux was ’n Christen en sy het dit nie net bely nie, maar ook geleef. Haar boodskappe op ’n Maandag was ’n geestelike inspuiting wat ons deur die week en nog lank daarna gedra het. Die Here was haar Herder en sy het Hom gevolg hear lewe lank. Die skool was, naas haar Skepper en haar ouers, die spil waarom haar hele lewe gedraai het. Mev. Conradie en mej. Bothma se besoek op haar negentigste verjaarsdag op 9 Februarie vanjaar, was die hoogtepunt van haar dag. Toe ek en mej. Lochner haar die vlg. dag besoek, was dit al waaroor sy gepraat het. “Die skool het my nie vergeet nie.” Die laaste keer wat ek met haar gepraat het, het sy na my welstand verneem, maar wou weet hoe dit by die skool gaan en ek kon haar verseker die skool is in goeie hande. Dinsdag by die skool het ek my verspreek. Die skool se erekode lui”we strive to become women worthy of serving our country” en ek het my verspreek en “Saving our country “gesê wat nie so ver verkeerd is nie, want om hierdie land van ondergang te red, het ons vroue nodig met integriteit, hoë morele waardes, vroue wat vir ons ’n voorbeeld en inspirasie kan wees, vroue wat respek afdwing, vroue met dryfkrag, vroue soos Christa le Roux. E n Av a n t Me v . J . He y d e n r y c h

3

Made with FlippingBook - Online Brochure Maker