Boishaaier 2025
Totsiens Elmarié Götze
Elmarié Götze (née Dippenaar) is op 9 April 1960 in die Wynberg Hospitaal gebore aangesien haar pa in die Lugmag in Langebaan Weg was. Sy voltooi haar laerskoolloopbaan in 1972 by Laerskool Dirkie Uys in Moorreesburg waar sy haar musiektalent ontwikkel, koor sing en aan atletiek deelneem. In 1973 skuif sy oor na Hoërskool Dirkie Uys en matrikuleer in 1977. Tydens haar hoërskoolloopbaan ontdek sy haar liefde vir Afrikaans en Wiskunde, doen steeds musiek, sing koor en neem deel aan debat en redenaars. Hoewel sy ’n passie vir diere gehad het en ’n veearts wou word, maak die Here vir haar in haar matriekjaar die onderwysdeur in die vorm van ’n onderwysbeurs oop. Sy gryp die geleentheid aan. Na skool gaan studeer sy aan die Universiteit van Stellen bosch. In 1980 voltooi sy ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Xhosa as hoofvakke. Ná haar voorgraadse kursus voltooi sy ’n Hoër Onderwysdiploma. Tydens haar studentejare speel sy hokkie vir Monica-dameskoshuis en word ’n CSV-kringleier. Sy voltooi ook later ’n Diploma in Remediërende Onderwys om leerders met lees- en skryfprobleme te help. Sy begin in 1982 haar onderwysloopbaan by Hoërskool Carnavron waar sy onder andere Afrikaans vir graad 8 tot 12 gee en Volkspele afrig. In 1983 trou sy met Heinrich Götze en skuif sodoende na ’n tydelike pos by Hoërskool Tygerberg. Sy los ook af by Oude Molen en Eben Dönges. Sy aanvaar uiteindelik ’n permanente pos by Hoërskool Tygerberg en later Hoërskool Monument Park. Op grond van die feit dat haar seun, Hein Götze, in 2007 as graad 8-leerder by die Hoër Jongenskool aansluit, oorweeg sy dit om self Paarl toe te skuif en aanvaar, toe die geleentheid realiseer, ’n Afrikaanse pos by HJS in die Afrikaanse Department onder leiding van Johan Strauss. Hier voer sy die debat en redenaars tot hoë hoogtes en blaas ook nuwe lewe in die English D ebating . Sy is verder verantwoordelik vir die skoolrooster en die ontwikkeling van die toesigrooster, en tree op as vakhoof en graadhoof. Sy is gedurende haar onderwysloopbaan vanaf 1995 betrokke by die nasien van matrikulante se eksamenantwoordstelle. Sy merk vraestel 1 (taal), 2 (letterkunde) en 3 (stelwerk), maar ontwikkel ’n passie vir die nasien van vraestel 3 en beweeg uiteindelik op in die rangstrukture na Senior Merker, Adjunkmerker, Hoofnasiener en Interne Moderator van die nasienproses. In 2013 word sy deur die Departmente Basies Onderwys aangestel as lid van Afrikaans Eerste Addisionele Taal se eksamenpaneel. In 2018 skuif sy oor na Afrikaans Huistaal se eksamenpaneel en word uiteindelik bevorder tot Hoofeksaminator in 2021 en Interne Moderator in 2023. Haar verantwoordelikhede in hierdie hoedanigheid sluit in: die opleiding Elmarié G ö t z e
Kristian Bezuidenhout en Derek Swart
van provinsiale nasienverteenwoordigers, die samestelling van diagnostiese verslae en terugvoer oor die Nasionale Senior Ser tifikaat-eksamen se nasien- en standaardiseringsproses. Juffrou Götze se benadering tot die onderwys behels interaksie met, en die ontwikkeling van jongmense se denke en vaardighede, hulle menswees en selfverwesenliking. Dit is wat die onderwys vir haar die moeite werd gemaak het: om te sien hoe jongmense deur middel van die nodige leiding ontwikkel en groei as mens. Juffrou Götze se menswees word waarskynlik die beste opgesom in die woorde van meneer Derek Swart, jarelange kollega en voormalige HJS-skoolhoof. “Ek het Elmarié Götze die eerste maal ontmoet toe ek destyds as hoof aangestel is by die Hoërskool Monument Park. Sy het my onmiddellik beïndruk met haar professionaliteit en haar vakkennis. Wat my egter veel meer beïndruk gelaat het, was die leiersrol wat sy in haar gemeenskap ingeneem het as eggenote van die plaaslike predikant, Heinrich, sowel as die leierskapsrolle wat sy op verskeie gebiede binne die personeel vertolk het. Sy was werklik iemand wat vir geen uitdaging teruggedeins het nie en vir wie niks te veel was nie. Met haar besondere kreatiewe probleemoplossingsvermoë het sy ’n groot rol gespeel, nie net as mentor en ondersteuner vir ander personeel nie, maar ook in my eie uiteindelike sukses as beginner-skoolhoof. Dit was dus vir my ’n doodlogiese stap toe ek verskuif het na die HJS om haar so gou as moontlik deel van die personeel by die skool te probeer maak. Dit het natuurlik geblyk absoluut die regte besluit te wees: Sy het ook hier haarself laat geld op verskeie gebiede, deur onder andere as nasionale eksaminator in haar vakgebied aangestel te word – voorwaar ’n besonderse prestasie. Hierdie ondervinding is natuurlik mildelik teruggeploeg tot voordeel van die HJS. Soos die spreekwoord egter sê: Aan alle goeie dinge kom ’n einde. Ek gun Elmarié natuurlik haar aftrede, maar haar aangename persoonlikheid en vermoë om vir almal om haar ’n rustige, warm omgewing te skep, sowel as haar unieke vermoë om haar standpunte te stel sonder om dominerend te wees, sal erg gemis word. Ek kan dus slegs my hoed afhaal en my dankbetuiging aan Elmarié aanbied vir die onuitwisbare spoor wat sy laat op die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap, maar ook op die lewensbaan van menige jongeling in sy lewenstaak om ’n positiewe verskil in ‘n baie negatiewe wêreld te maak.” Die HJS-personeel en -seuns sal Juffrou Götze werklik mis. Die nalatenskap wat sy los, is nastrewenswaardig. Ons wens vir haar baie goeie jare toe!
BOISHAAI 157 YEARS 9
Made with FlippingBook - Share PDF online