Boishaaier 2025
Kreatiewe Skryfstukke
Oor ’n koppie koffie met ouma
Is DIT sosiale selfdood?
Helgard Nolte (12C)
Die son smelt soos heuning in die see in. Die lig weerkaats op die oppervlak en streel my gesig. ’n Ligte briesie waai my klere teen my liggaam en laat dit voel soos haar drukkies. Ek lig my arm stadig op en maak my vingers versigtig oop. Haar as verlaat my hand. Ek raak aan haar, maar sy voel verskriklik ver. Ek maak my oë toe. Die lig weerkaats in die druppels wat by my wange afrol en laat dit lyk asof daar klein wêreldjies in my trane is. My voete sleep oor die sand terwyl ek met hande in my sakke terugkeer na haar strandhuis. Die strandhuis wat hare was. Waar sy op die stoep gesit het met ’n sigaret in een hand en ’n glasie brandewyn met ys in die ander hand. Sy het nooit ’n boek geskryf nie. Nie eens ’n gedig nie. Maar die beste stories in die wêreld is daar, op daardie stoep, as die vuur die braaihout lek, in my brein geskryf. Haar stem was grof van ouderdom, maar sag van liefde. Ek stap by die rooi deur in en skakel die ligte aan. Dis net ek in die huis. Ek wou alleen vir haar groet. Ek gaan sit op my stoel. Haar dik leerstoel is reg langs myne. Ons sou altyd vroeg opstaan. Sy in haar wit kamerjas en ek in my nagklere. Dit was ons hoekie waar ons sou lag en huil terwyl die res van die wêreld stilletjies sluimer. Oupa se ritmiese snork het altyd ’n giggel veroorsaak. Ek streel my hand oor die koue leerstoel en dink terug aan haar lag. Ek staan op en gaan na die groot rak teen die muur. Bo is dit vol boeke van Jane Austen, Jules Verne en J.R.R. Tolkien. Onder is daar plate, hoofsaaklik klassieke musiek soos Tchaikovsky, Sibelius en Vivaldi, maar daar is ook jazz van Louis Armstrong, Ella Fitzgerald en Bing Cosby. In die middel van die rak staan haar platespeler. Hier het ons saam na orkeste geluister. Sy kon al die stukke met hul vreemde name noem, soos Sonate vir Klavier in A majeur deur Mozart en Simfonie nommer een in E mineur. Ek haal die plaat uit, plaas dit in die platespeler, sit die naald op sy plek, maak my oë toe ... en luister. Die volgende oggend raak ek wakker. Ek staan op en gaan kombuis toe. My kaal voete voel koud teen die vloer. Ek skakel die ketel aan. Ek haal die suiker, koffie en melk uit. Die ketel se operastem sing haar aria. Ek roer en stap uit na die balkon. Die oggendson groet my. Ek sit die twee koppies neer. Wat sou ek gee vir nog net een gesprek oor ’n koppie koffie met Ouma!
Philip Venter (12C)
2007. Die geboorte van die dodelikste wapen ooit. ’n Wapen met die verslaafdheid van dwelms en die onskuld van ’n priester se kinders. Elke dag is tieners besig om ure van hulle lewe af te skud en hulle besef dit nie eers nie. Hierdie kernagtige wapen behoort nie in elke tiener se broeksak te vibreer nie. Dit is natuurlik ... die ambivalente slimfoon. Die eerste manier waarop selfone ons in staat stel om sosiale selfdood te pleeg, is deur ekstreme vlakke van dopamien. Dieselfde vlakke wat dwelms in die brein vrystel. Daar is twee probleme hiermee: Eerstens, net soos dwelms, moet die “spike” weer afkom. Wanneer dit gebeur, val jou dopamienvlakke laer as wat dit aan die begin was. Ewe skielik voel jy dan baie sleg of selfs depressief. Die tweede probleem is dat goeie goed, soos met jou vriende praat, baie min dopamien afskei in vergelyking met hierdie nuwe “standaard”-vlakke. Die tweede manier waarop selfone ons lewens vernietig, is deur sosiale media. Een plek, al jou vriende. Ons kan kyk na “opsommings” van mekaar se lewens, “likes” uitruil en ons eie lewens teen die venster ophang. Die probleem is dat hierdie “opsommings” nie realisties is nie. In realiteit is dit ’n paar handgekose, verfynde stukkies wat aan mekaar geweef is om ’n fassade van die perfekte lewe te projekteer. In vergelyking hiermee staan jou eie lewe nie ’n kans nie. Die derde tegniek vir verwoesting is die hoeveelheid tyd wat dit steel. Die gemiddelde Amerikaanse tiener spandeer ongeveer 7 ure elke dag op sy selfoon ... en die statistiek vir Suid-Afrikaanse tieners is selfs hoër! Hierdie onproduktiwiteit lei tot só baie gemorsde potensiaal en talent. Dit is ook letterlike selfdood. Jaar na jaar is tieners stadig besig om tyd van hulle lewe weg te neem. Laastens verrinneweer dit ons sosiale lewens deur interaksies te digitaliseer. Mense verkies al hoe meer om eerder digitaal te kommunikeer, omdat dit makliker is. Die probleem daarmee is dat boodskappe hul betekenis verloor. Wanneer jy persoonlik met iemand gesels, is daar baie onsigbare informasie wat oorgedra word. Sonder dat jy dit eers agterkom, let jy op na die persoon se toon, gesigsuitdrukking, bui, emosie, ensovoorts. Deur hierdie aspekte te verloor, raak ons verhoudings dood. Wat slimfone so moeilik maak om te hanteer is hulle ambivalente aard. Hulle kan ons so baie help en goed vir ons wees, tog gebruik ons dit vir sosiale selfdood.
BOISHAAI 157 YEARS 89
Made with FlippingBook - Share PDF online