Boishaaier 2025

Kreatiewe Skryfstukke

Ek en jy is gemaak om spore te los

Daniël Nolte (12C)

Dwaal. As ek een woord moes gebruik om my lewe te beskryf sou dit dié woord wees. Dit voel vir my asof almal anders die volgende vyf jaar van hul lewens in ’n donkerrooi notaboekie met ’n goue lint rondom dit gebind, geskryf het. Met groot, dik, swart letters wat elke liewe gaatjie wat daar dalk nog gelos is, inkleur soos ’n halfnugter digter wat tweeuur die oggend die inspirasie gekry het om ’n meesterstuk te konstrueer. Het jy gehoor Frans het ’n beurs gekry? Dawid is hoofseun, maar almal het al van graad agt geweet dit gaan gebeur. Jean is gekies om in die Sokkerwêreldbeker in Australië te gaan deelneem. Sy motor is blinker as myne. Hy is aanvaar vir elke universiteitskursus onder die son sowel as elke koshuis op die kampus. Hy is gekies om vir die eerstespan op te draf hierdie naweek. Identiteit Hy is ’n sportman, hy is ’n akademiese wapen, hy is ’n besigheidsman, hy is ’n entrepreneur.

Ander mense het al op laerskool begin presteer en hulle hou op dieselfde koers vir die volgende twintig jaar: suksesvolle loopbaan, trou op 23, eerste kind op 26, tree af op 36. “Dis nie onverwags nie. Hy was hoofseun in die laerskool, dux-leerder in die hoërskool, kaptein van die eerste tennisspan in albei. Hy het al geweet wat hy wou doen vandat hy dertien jaar oud is.” Ek is nie natuurlik goed in dinge soos ander mense nie. Ek was nooit in die eerste span nie; ek was nooit prefek nie; ek het nooit pryse gewen nie; ek was nog nooit natuurlik aantreklik nie; nooit heeltemal gemaklik in sosiale omstandighede nie; ek was nog nooit tevrede met myself in die spieël nie. Partymaal (meestal) wou ek nie eens naby aan ’n spieël kom nie. “Wat is jou plan na skool?” “Ek weet nie.” “Dit was ’n lekker partytjie Saterdag, né?” “Ek sou nie weet nie.” My hele lewe lank sê mense nog: “Jy is uniek”, ”Jy is belangrik”, “Jy is spesiaal”, “Jou tyd gaan nog kom.” Miskien is hulle reg, miskien nie. Tot dusver sou ek nie met hulle kon saamstem nie. Maar ... As hulle die lewe se geheime kon ontdek, hoekom nie ek ook nie? Wat keer my? Ek het nie ’n idee wat ek wil of gaan doen nie, maar hoekom moet ek? Ek weet een ding: Ek en jy is gemaak om spore te los. Dalk is hierdie eerlike wroeging ’n spoor wat ek in iemand anders se lewe los ...

Wie is ek? Wat is ek? Hoekom is ek hier?

Met bewende hande skeur ek die koevert oop

Jacques van Rooijen (12E)

Die koevert in my hande voel so swaar soos ’n sak vol klippe. My vingers bewe effens terwyl ek dit vashou, dit voel asof ek my toekoms daarin kan voel. Die swart en wit letters aan die buitekant staar na my. Universiteit van Stellenbosch My wind is heeltemal uitgeslaan. Dié is die oomblik waarop ek gewag het, die oomblik wat al my harde werk gaan bepaal. My hart klop soos ’n trom, en my palms is sopnat gesweet. Ek voel vasgevang tussen moed en vrees en wonder of ek die koevert moet oopmaak. Ek dink terug aan die laaste twee jaar van my lewe. Ure se leer, slaaplose nagte, torings van boeke in my kamer. Wiskunde en Wetenskap het my van die binnekant af opgeëet en ek het myself gedwing om elke detail te verstaan. Daar was tye van onsekerheid, tye dat die druk van Pa amper te veel was, maar daardie gedagte van trots en om hom te laat glimlag, het my gemotiveer. Dit is toe ek eers in die boeke geklim het. Die koevert is steeds in my hande. Die woorde begin al dieper in my siel kyk. My pa – hoof van die ingenieursfakulteit – kom in my gedagtes op. Moet ek vir hom wag? Hy sou tog seker

saam met my wou wees wanneer ek die nuus kry? Maar wat as ek nie gekeur is nie? Hoe kyk ek hom dan in die oë?

My kop draai ... My asem jaag ... My hart voel of dit gaan BARS!

Ek onthou die dag toe ek aansoek gedoen het, hoe my pa langs my gesit het, sy hand op my skouer om my te kalmeer, maar ek kon voel hoe my vingers bewe terwyl ek my lewe wegteken. Sy stem was kalm, maar ek kon die spanning in sy oë sien, dit was asof daar iets is wat ek nie geweet het nie. Ek wou hom nie teleurstel nie. Ek kon nie. Ek skeur die koevert oop met bewende hande. Die papiere ritsel soos droë blare. My oë gly oor die woorde en ek voel hoe die wêreld onder my uitgly. My hart ruk, my asem stol. My oë beweeg na die aanhef van die brief: Geagte Professor. Professor? Ek het per ongeluk ... My pa is afgedank?

88 BOISHAAI 157 YEARS

Made with FlippingBook - Share PDF online