Boishaaier 2025
Tribute to Willem Erwee
Willem E r w e e
Marissa von Mollendorf
By die 1982-prysuitdeling lewer skoolhoof, mnr Tom Engela, soos gebruiklik sy jaarverslag. In die saal luister die matriekklas aandagtig. Onder hulle, ene Willem Erwee. Mnr Engela droom oor klasreünies in die een-en-twintigste eeu, en hoe die manne van regoor die land weer bymekaar sal kom om oor die jaar se prestasies te gesels. En, sê hy, meer nog as die prestasies: dat hulle sal gesels oor die “menswees van die Klas van ’82 … die beskaafdheid, die verfyndheid, die manlikheid, die lojaliteit, die voorbeeld en bowenal die manmoedige veggees van hierdie matriekklas”. Willem was die absolute beliggaming van daardie woorde. As leerder, oudstudent, onderwyser en uiteindelik as hoof van bemarking het hy nooit sy metaforiese blou baadjie uitgetrek nie. Hy was ’n toonbeeld van nederigheid, toewyding en stille krag, en sy onwrikbare waardes en opregte belangstelling in elke mens met wie hy paaie gekruis het is maar net ’n klein deel van die onuitwisbare nalatenskap wat hy agterlaat. Ons sal vir Willem onthou vir sy sagmoedigheid, sy humor, sy wyse raad, en vir die stille sekerheid waarmee hy die lewe aangepak het. Vir elke keer
as hy homself voorgestel het as deel van die “mees suksesvolle klas van 1982”, en vir sy onwrikbare geloof in en ondersteuning aan sy huis – Berlyn (ironies genoeg het Berlyn in 1982 die huisbeker gewen … en weer vanjaar, in 2025). Maar bowenal sal ons onthou hoe hy, in PJ du Pré le Roux se beroemde woorde, “die HJS ’n beter plek gemaak het, deurdat hy daaraan behoort het”. Die volgende herinneringe van Rossouw, sy seun, voltooi die prentjie en bevestig bogenoemde indrukke: Uit die talle mooi getuienisse wat ek bly ontvang oor my pa is daar een getuienis wat gemeenskaplik is. My pa het die vermoë gehad om die waarde in enigiemand te sien en na vore te roep, ongeag sogenaamde status. ’n Woord van motivering was nooit vir hom moeilik om oor te dra nie. Hy kon maklik lewe spreek en iemand herinner dat hulle belangrik is en baie beteken. Ek kan altyd met hierdie getuienis vereenselwig omdat my pa ook gereeld oor my, as sy enigste seun, lewe gespreek het en my herinner het dat ek waardevol is. Mag ons elkeen by hom iets leer in dié verband.
6 BOISHAAI 157 YEARS
Made with FlippingBook - Share PDF online