Boishaaier 2020

KREATIEWE SKRYFSTUKKE / CREATIVE WRITING

GOEIE OUENS KOM TWEEDE Wat is ’n goeie ou? Iemand wat te bang is om op ander mense se tone te trap? Die een wat sukkel om “nee” te sê? As dit jou idee van ’n “goeie ou” is, sal jy verstaan waarom ek van mening is dat goeie ouens tweede kom. Goeie ouens kan nie prioritiseer nie. Die geneigdheid om ander se begeertes en ver- soeke eerste stel is iets wat hulle goed regkry in plaas daarvan om hulle eie begeertes te vervul, hul eie drome na te jaag. Die goeie ou sukkel om homself eerste te plaas en selfsugtig te wees. Om werklik suksesvol te wees moet jy eers omsien na jou eie wel- stand, jou eie persoonlike groei – en goeie ouers doen dit baiekeer nie. ’n Goeie ou weet nie hoe om nee te sê nie. Hy sal altyd ander tevrede wil stel. Soms bevind hy hom in posisies waar hy moet kies tussen persoonlike sukses of ander se probleme en kies die meeste kere ander mense bo hulself. Goeie ouens is selde uitgesproke. Hulle het dikwels ’n standpunt oor sake, maar het nie altyd genoeg selfvertroue om te sê wat hul dink nie. Dit kan strek van sy eie mening gee tot ander reghelp. Dit skep dan ook dikwels die indruk dat hulle hul deur groepsdruk laat manipuleer. Laastens sukkel goeie ouens om hulself van toksiese verhoudings te verwyder, van romantiese verhoudings tot vriendskaplike of sakeverhoudings. Hulle vergewe dalk te vinnig of gee die ander persoon die voordeel van die twyfel ten koste van hulself. Goeie ouers kom tweede. Hulle gee te maklik in en sien nie altyd die moontlike gevare of selfs moontlike persoonlike groeigeleentheide raak nie, want hulle gee soms te veel om vir ander en word daarom deur ander gemanipuleer wat daartoe lei dat hulle hul eie suksesgeleenthede mis. Neil Goosen (11E)

DIE PYN VAN ’N NUWE DAG

Die son glimlag vir die wêreld verby die hoogste pieke. Die nuwe dag bring hoop vir miljoene, maar vir biljoene angs en lyding.

’n Bloedjong seun skrik wakker sonder ’n dak oor sy kop. Hulle

sinkhuis se dak het tydens die nag af- gewaai. Die son hang nog laag oor die berge, maar hy weet hy moet vanaand wéér met ’n leë maag gaan slaap. Die huis se dak moet regkom. Daar gaan nie tyd wees om kos te gaan soek nie. ’n Tienerdogter ry skool toe en kyk hoe die son stadig sy roete in die hemel- ruim volg. Sy voel eensaam soos ’n wolk in ’n woestyn. By die skool is sy die lelike eendjie. Geen vriende nie. Alleen. ’n Jongman sit soos ’n skuldige seuntjie by sy lessenaar terwyl sy baas hom verskree. Hy twyfel aan homself, sy vermoëns. Hy twyfel of hy môre nog ’n werk gaan hê. Hy voel waardeloos. Later strek hy na die bot- tel en lig die elmboog. Dit bied hom die nodige selfvertroue, maar vergiftig sy vlees én siel. ’n Middeljarige vrou staan en skroei in die middagson. Haar bene voel of hulle gaan bars en haar vel span harder en droër, soos leer, om haar gesin. As enkelouer probeer sy haar ondankbare kinders ondersteun. Sy voel vernederd, waardeloos, maar sy doen wat sy moet doen. ’n Man op die drumpel van aftrede ry in sy kar met vrees in sy hart. Hoe gaan hy vir hom en sy vrou versorg as die dag aanbreek? Hy tel die dae wat oorbly voor hy die “goue” handdruk kry. Daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Hy gaan eendag ’n sukkelaar sterf. ’n Bejaarde vrou sit in haar sel in die ouetehuis en kyk hoe die son die horison soen. Nog ’n dag is verby. Nog ’n dag dat sy nie van haar kinders gehoor het nie. Vandag, soos enige ander dag, het nog van haar familie en vriende gesterf. Die eensaamheid en hartseer is oorweldigend. Tog is sy ook vol vrees. Sy weet dat sy, so seker soos elke nag wat naderkom, een stappie nader is aan haar dag van rekenskap. Die son sluit sy oë as hy agter die horison gaan lê. Die aanbreek van die nag bring die hoop van ’n beter dag vir miljoene, maar daarmee saam kom die onsekerheid van môre ook vir biljoene. Sebastian Lombard (12D)

GOEIE OUENS KOM TWEEDE?

Met die hoed in die hand kom jy deur die ganse land. Ek glo goeie ouens met goeie maniere sal sukses behaal.

Eerstens, goeie maniere het ’n goeie reputasie tot gevolg. Jy het die mag om jou reputasie te “skryf” deur jou optrede en hoe jy mense hanteer. Dit laat ’n blywende indruk en is jou nalatenskap. ’n Glimlag; vriendelike asseblief en dankie; die deur vir ’n dame oopmaak; vir ouer mense mense voorrang gee; jou medemens met respek hanteer – ongeag ras, agtergrond of ouderdom en om in moeilike omstandighede kalm te bly met jou emosies en woorde is basiese maniere wat ’n impak maak en respek ontketen. Onbeskoftheid, onbedagsaamheid en ’n sin van oorywerige eiewaan maak beslis deure toe. Dit bring my by my tweede punt: Goeie maniere lei tot goeie, eerbare vriendskappe. Ek glo vir seker om morele, eerbare vriende te hê, is deel van enige suksesplan. Die Bybel sê in Spreuke 27:17 “Yster slyp yster en so vorm vriende mekaar”. Mense voel aangetrokke tot diegene wat hulle goedgemanierd, met respek en integriteit, asook in liefde behandel. Derdens het goeie maniere ’n invloed op hoe mense jou hanteer, ook in die werksomgewing. Mense sal jou waarskynlik as ’n volwasse en verantwoordelike persoon beleef en jou daarvolgens behandel. Indien jy altyd beleefd, vriendelik en respekvol teenoor ander optree, sal jy in selfs die onbeskofste persoon mettertyd ’n verandering sien. Jy dwing guns af. Volgens JH Coetzer van Business Times kan jy al die geleerdheid en geleenthede in die lewe hê, maar eienskappe soos dissipline, goeie maniere, respek en integriteit neem jou op die pad van ware sukses. Daarom is my slotsom: jou goedgemanierde interaksie bepaal hoe mense jou ervaar, beskou en behandel. Ouens met hierdie karaktereienskappe kom verder in die lewe en sukses is ’n uitvloeisel daarvan. Danté Burger (11E)

93

BOISHAAI 152 YEARS

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online