Boishaaier 2020

CREATIVE WRITING / KREATIEWE SKRYFSTUKKE

WANHOOP Net toe ek dink dinge kan nie erger word nie, besef ek dat die ergste nog voorlê. Ek probeer my bes om positief te bly, maar as alles en almal om jou hulle rug op jou draai, is jou motivering om aan te hou vorentoe beweeg die minimum. Dit was 2015. Ek was soos enige ander 17-jarige tienerseun. Liefdevolle gesin, wedersydse ondersteuning van ’n vriendekring waaroor ek kon spog. ’n Eenheid. Hulle was hartsmense. Altyd omgegee en mekaar beskerm. Ek kon nie vir beter vra nie. Ons was almal mal oor sport. Een speel gholf, een krieket, een swem. Maar een ding wat ons gemeen het, is dat ons almal vir die skool rugby gespeel het. Al van kleins af was dit ons prioriteit en die gomwat ons vriendskaplike verhouding sterker gemaak het. Soos enige ander seun het uitdagings my geboei, vreesaan- jaende aktiwiteite, dinge wat jou uit jou gemaksone dwing. Hoe anders groei jy? “Doen telkens iets waaraan jy nie gewoond is nie; dit gee jou ondervinding,” het ek gedink. As dit tog net so maklik was ... My beste vriend op dié tydstip, John, is ’n jaar later as ons skool toe gestuur omdat hy later verjaar. Hy is dus al 18. John het graag met sy ma se ou 1984-Mercedes in die dorp rondgery. Onskuldige pret.

Dit was ’n Saterdagoggend. John het my kom haal om te gaan visvang by die dam buite die dorp. Sak en pak is ek by die huis uit, min wetende dat die dag nie so eenvoudig sou bly nie ... Ons was net buite die dorp. Die lang, reguit pad strek silwer- skoon voor ons uit. Ek moedig vir John aan om ’n bietjie voet neer te sit, sodat ons kan sien hoe vinnig die ou dame kan gaan. Die pad is mos skoon, wat kan verkeerd gaan? Negentig ... honderd ... honderd en twintig ... Ek onthou dit soos gister. Die versteekte ingang net voor die dam. ’n Motor ry uit sonder om eers te kyk. Kop-teen-kop. Ek maak my oë stadig oop. Ek kan nie beweeg nie. Ek roep na John. Hy antwoord nie. Nooit weer nie ... Ek word in die ambulans gelaai en verdoof. Toe ek bykom, ontvang ek die nuus oor John. Al my vriende kom kuier, maar nie John nie. Ek wou hom by my hê! Ek beleef magteloos hoe die wêreld teen my draai. Die ondersteuning het my niks gehelp nie. Die oorheersende vraag wat ek hoor, is: “Was dit my skuld?” Terwyl ek rou, stap die tyd aan. Mense beweeg aan. Niemand gaan vir my wag nie. Hoe ek die situasie hanteer, bly in my hande. Ongelukkig moet enige mens aanbeweeg. Jacques Pretorius (12D)

DIS NIE WAT EK MET DIÉ WOORDE BEDOEL HET NIE!

VOOR IN DIE RY Uiteindelik is ek voor in die ry!

Dis ’n Woensdagmiddag vroeg in Januarie. Ons matriekjaar. Ek en twee van my pelle sit in die rekenaarlokaal besig om ons matriekvakansie te beplan. Vakan- sie hou is duur en sonder om te dink sê ek woorde wat ek nie só bedoel het nie. Ek hou daarvan ommet my onderwysers te gesels en ’n verhouding met hulle te bou. Hulle is mentors, maar partykeer, soos in hierdie geval, kan hierdie verhouding in my guns tel. Juffrou Goldstone is op daardie stadium hoog swanger en terwyl ons so in die rekenaarlokaal sit en planne maak, kom sy in. Die normale gesprek word gevoer: “Is daar al ’n naam?”, “Wat is die datum?”, “Het sy al klere?” Toe kom die woorde wat ek dalk eers moes oorweeg ... “Juffrou, ek het ’n briljante idee hoe ons mekaar kan help! Juffrou is swanger en ek het nie geld vir Desember nie.” My eerste fout. Ek moes definitief eers navorsing gedoen het voor ek die volgende kwyt geraak het. “Juffrou, ek dink ek gaan soos op televisie by staan met my arms gevou. Dan, wanneer die dokter die baba uit het en die verpleegsters hom of haar gewas het, begin my werk. Ek neem die baba by hulle en bring die baba na Juffrou, alles teen ’n klein fooitjie van R6 000. Juffrou kry die baba en ek kry geld vir Hartenbos.” Sy reageer effens verward. “Dian, so jy wil tegnies ’n “fruitman” wees?” Dit is wat ek gedink het sy sê. My tweede fout. As jy weet wat ’n “fruitman” of “fruitvrou” is nie, moet jy nie “ja” op sulke vrae antwoord nie. Wel, in my dofheid is dit presies wat ek gedoen het. Weliswaar met ’n effense onsekerheid in my stem. Gou het ek vermoed dat dit die verkeerde antwoord was. Juffrou Goldstone, meneer Van Hansen en juffrou Von Mollendorf sit en lag dat die trane spat. Iets is vir hulle snaaks, maar ek was doodernstig. “Het ek dalk iets gesê?” Meneer Van Hansen kom tot my hulp. “Dian, google gou wat ’n vroedman se werk is.” Ek dog ek kry ’n hartaanval toe die soekenjin se resultate voor my verskyn. “Juffrou, ek wil nie lelik wees nie, maar ek het ’n ander werksbeskrywing in gedagte gehad. Ek het nie meer ’n vreeslike groot nood om ’n vroedman te wees nie.” Die histeriese lagaksies van die drie onderwysers voor my is meer vermaaklik as enige televisiekomediereeks beskikbaar. So ja, ek en my drie pelle sit nog steeds en beplan om geld te maak, waarvoor weet ons nie, want te wyte aan Covid-19 is diematriekvakansie dalk van die baan. Dian Jacobs (12D)

Dit is nou my beurt, my beurt om matriek by Hoër Jongenskool Paarl te voltooi. Ek gaan hierdie jaar by die horings pak en die beste daarvan maak. Ek sien veral uit daarna om die Prestige Atletiek- byeenkoms vir die tweede keer agtereenvolgens te wen, veral met die 100 m-atleet aan ons kant. Die titel van Interskole 2020 is natuurlik in Boishaai se guns. Met ’n sterk agterlyn, talle Cravenweekspelers en ek as kaptein staan Gim nie eers ’n kans nie. Dit gaan beslis ’n rekordtelling wees. Die akademie … nou ja, dit is ’n saak vir later. Ek het die vermoë en dit is al wat tel. Maar vir eers gaan ek gekroon word as Meneer HJS vir 2020, die mooiste meisie in die Paarl na die matriekafskeid toe vra – ek lyk darem ’n bietjie beter as wat ek in graad 8 gelyk het, of hoe? Die jaar sal natuur afgesluit word met ’n feestelike Plettenbergbaai-partytjie, met talle matriekleerders van dwarsoor die land, wat by voorbaat hulle uitstekende matriekuitslae sal vier, of dalk die vrees so besweer ... Ek sal maar die knie buig en erken dat daar ’n paar onderwysers is vir wie ek dalk gaan mis: meneer Swart se flou grappies op ’n Maandagoggend, meneer Van Hansen se stories oor die geskiedenis van die wêreld, juffrou Götze se goeie sin vir humor en lewenslesse. Nonsens praat tydens pouses tussen ons vriendegroep gaan beslis hierdie jaar ’n hoogtepunt bereik aangesien ons nou die grootste (letterlik?) in die skool is. Niks sal hierdie goue jaar opmors nie, nie eens die kleinste dingetjie nie. Ek gaan hierdie jaar vir seker nooit vergeet nie, want ek staan nou voor in die ry, dit is nou my beurt. Ek is nou die groot boom wat as klein takkie agter begin het. ....... En toe kom Covid-19! Simon Gerber (12D)

92

BOISHAAI 152 YEARS

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online