Boishaaier 2019

KREATIEWE SKRYFSTUKKE / CREATIVE WRITING

DIE ANKERS IN MY LEWE Ons lewe in ’n era waar die wêreld se boosheid mense insluk en vernietig. Om in vandag se wêreld dit as ’n sterk en opgevoede tiener tot bo op die lewensleer te maak, het jy sterk ankers nodig. In my lewe het ek vyf ankers wat my help om my voete op die grond te hou en die regte koers in te slaan. Die eerste anker in my lewe is my pa. Hy help my om strategies oor besluite te dink en nie net vinnige, naïewe besluite in die lewe te maak nie. My pa lees nie boeke vol reëls aan my voor nie. Hy het my geleer om die positiewe en die negatiewe aspekte teen mekaar op te weeg en dan ’n wyse besluit te maak. My tweede anker in my lewe is my ma. My ma leer my oor die fyner kant van die lewe. Sy leer my hoe om netjies te leef van dag tot dag en natuurlik hoe om ’n meisie se asem weg te slaan. Sy leer my ook dat niemand perfek is nie, almal maak foute. Solank jy nie opgee nie, sal die lewe jou nie onderkry nie. My derde en heel belangrikste anker in my lewe is God. Hy het my op die aarde geskape en my verlos van die bose. Ek probeer elke dag nader aan God leef, alhoewel ek baie struikel. Ek leer ook dat ons mekaar moet vergewe en om kwaad te bly vir iemand net tydmors en onplesierig is. My vierde anker in my lewe is my vriende. Daar is ’n gesegde: Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op. Dit is belangrik om die regte vriende te hê; hulle vorm ’n groot deel van jou lewe en hoe jy oor dinge dink. Jy moet vriende hê wat jou motiveer en ondersteun en geen druk op jou plaas met keuses nie. Die laaste anker in my lewe is die natuur. Ek bly al my lewe lank op ’n plaas en bewonder steeds elke dag die skoonheid van die natuur. Ek probeer ook elke dag soos ’n mossie leef. Hy basuin elke dag sy dankbaarheid vir nog ’n dag uit en is dankbaar en opgewonde oor alles wat na sy kant toe kom. Die lewe is soos ’n lang toring: As sy kabels nie lank en sterk genoeg is nie, sal hy omwaai en vernietig word. Dit is ook so met ons as mens. Om die vrugte van sukses te

DIE GEVOEL VAN OUMA SE LIEFDE Die doilie se plastiekkraletjies klingel teen die melkhouertjie soos ek van die kombuis af stap. Boeretroos, skuinskoek, kaiingbroodjies en vlakoekies pryk in hulle bedienbordjies. Ek gaan staan in die deur van die sonkamer en sien vir Ouma ... Soos die rustigheid self sit sy en vul blokkiesraaisels in. Die lappop en die gebreide rok is langs haar. Sy sit stylvol geklee met haar bril netjies in plek. My sintuie begin die herinneringe van my ouma herroep. Ek ruik vir Ouma in die donderweer wat die grond vars laat ruik. Die reuk van warmte, sekuriteit en liefde as die weerlig slaan en ek stywer teen haar opkrul, die reën in my neus. Ek ruik Ouma in die stof van die grondpad waar ons met droë stokkies prentjies teken. Ek ruik haar in die plantsap van haar immergroen malvas. Ek proe Ouma as ek aansit vir Ouma se feesmaal. Ek proe haar in die lamsboud, sousboontjies, pampoenpoffertjies en natuurlik in die souskluitjies met kaneel. Ek proe my ouma as ek per ongeluk die brakwater en mos sluk in die plaasdam, en hoor hoe sy skater. Ek hoor al Ouma se stem as die huistelefoon lui. Ek hoor haar in die geskree van die tarentale, wat beteken ons sal vir hulle moet gaan kosgee. As ek in die aand ’n steun hoor, weet ek dis Ouma wat kniel voor haar bed en in dankbaarheid bid. Haar pragtige stem hoor mens die beste as sy ’n digbundel gryp en die mooiste Afrikaanse gedigte voorlees. Ek sien vir Ouma as ek die kapokeiers moet soek in die driedoringbosse. My oë volg haar wysvinger soos sy na die kosmos beduie. ’n Mens sien haar die beste as ek haar van my lewetjie vertel en die sagte, trotse glimlag om haar mondhoeke speel. Ek sien haar in die hele boksemdaais van foto’s en portrette. Soos ek die enamelbeker op die plekmatjie neersit, vorm daar rimpels in haar koffie: twee suikers en ’n titseltjie melk. Ek skuif die goed langs haar weg en hou haar hand vas. So voel ek haar liefde die beste. Haar parfuum steeds elegant, al het die breingewas haar reuk en smaak weggeruk. Al hoor sy nie mooi nie, luister sy vir my. Die trane agter haar bril skitter soos die Suiderkruis, want haar geheue is saammet ons prentjies in die stof deur die wind weggewaai ... HERMAN SNYMAN (11C)

pluk moet ons sterk ankers hê. FREDDIE KIRSTEN (12D)

We are looking forward to a new and exciting journey with you

Tel: +27 (0)21 913 9745 Email: info@zuydam.co.za

98 BOISHAAI 151 YEARS

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online