Boishaaier 2019

KREATIEWE SKRYFSTUKKE / CREATIVE WRITING

KREATIEWE SKRYFSTUKKE

WANNEER STILTES PRAAT Die gebrul van motorfietse wat op die hoofpad jaag, weergalm oor die oop vlaktes. Die ritmiese polsslag van die trein wat in die verte aankom, is musiek in my ore. Pa het altyd gesê daar is reën op pad as jy die trein kan hoor. My liefste pa ... Vandag is presies een jaar na sy ongeluk. Die plaas sal nooit weer dieselfde wees sonder hom nie. Die sterre bo my, wat ek een vir een kan uitken as gevolg van hom, blink vanaand ekstra helder. Ek kan nie ophou staar na die hemele nie. Dit voel as ek hard genoeg kyk, sal ek hom sien tussen die engele. Die stiltes praat met my. Ek hoor Pa se kenmerkende fluit as hy die beeste aanjaag op ’n vroegsomersoggend, gevolg deur die

hoesie wat hy elke oggend probeer wegsteek – sy pyp het hom nooit verlaat nie. Ek hoor die stories wat hy my dag na dag vertel het oor die geskiedenis van ons plaas. Ek voel die trots wat hy het as hy my na die uitkykpunt toe geneem het vanwaar jy die hele plaas kan sien. Pa was ’n ware heer. Elke aand voordat hy gaan slaap het, het hy Ma se voete met room ingevryf – al het hy vir sestien uur lank geploeg. Ek kon nooit met Pa stry nie; hy was altyd reg. Hy het my altyd met minder as twee sinne op my plek gesit. Die werkers op die plaas het die wêreld se respek vir hom gehad. Hy het almal altyd met respek aangespreek, al wou hy nie. Ek weet ek moet soos Pa optree, maar dis moeilik. My sestienjarige lyf wil nie respek afdwing nie. Ek dink dit gaan gepaard met oudword.

Die swaar wolke beweeg oor die berge en die sterre word dowwer. Die donderweer klap soos geweerskote. Ek hou nie van weerlig nie. Dit laat my dink aan die ongeluk. Ek loop oor die grasperk en gaan sit in Pa se bakkie in die stoor. Dit ruik nog soos tabak. Hier, in die stilte van die nag, voel ek veilig. Die vaal stoorlig help nie veel nie en alles is donker. Ek hoor hoe die reën op die sinkplaatdak begin val. Pa was elke keer reg – die reën wás op pad! Ek hoop ek kan eendag presies soos Pa wees. ’n Lig vir die mense rondom my. ’n Voorbeeld vir my nageslag. ’n Ware illustrasie van God se prag. “Ek is lief vir Pappa.”

NIKOLAI COETZEE (12D)

DIE HANDDRUK Met die inkomslag skud ek sy hand, soos ’n vriend, maar ek voel soos ’n gevangene. Vyf dae lank word ek gemartel – elke week. My hele lyf smag na vryheid. My hemp klou aan my rug vas. Ek is papsopnat. My kraag wurg my, terwyl die vertrek om my al hoe kleiner word. Ek kry nie asem nie. Die man voor my brul in ’n lae toon. Ek probeer om my oë oop te maak. Dit is asof iemand my bedwelm het. Die spiere in my nek trek styf. Ek probeer ontsnap, maar my vrees vir dié man is net te erg. Ek veg teen die moegheid en probeer luister. Die vrae en antwoorde reën op my neer. My hart jaag soos ’n renjaer; my gedagtes probeer vlug – plaas toe, vakansie toe – maar ek sukkel. Sy martelingstegniek is vreemd. Daar is ander leerders rondom my; ek voel die spanning in die atmosfeer. Die man staan voor my, maar ek kyk nie op nie; ek vermy sy oë. Agter die toe deur is die hoop op ’n vrye wêreld. Die buitelug en die son. As ek net daar kan kom ... Uiteindelik lui die sleutel tot die slot. Dit is 14:15. Uitkomtyd. Die stilte word verbreek deur die klok wat die spanning op ’n piek bring. Dis verby! Ons staan op en pak ons boeke weg. “Middag, Menere.” Almal verdaag. Ek bly agter – oudergewoonte. Ek stap versigtig nader en skud sy hand. Hierdie keer soos ’n gevangene wat deur die sipier vrygelaat word. “Geniet jou naweek, Albert.” “Dankie, Meneer.” ALBERT VAN NIEKERK (12D)

’N MAN SOOS MY PA Twee jaar het verloop sedert my pa die doodstraf ’n rat voor die oë gedraai het met slim prokureurs en mooi, onskuldige leuentjies. Dit nadat ek hom, knuppel in die hand, oor die lyk van ’n polisieman betrap het. Verdien ’n man soos my pa die lewe? ’n Man wat sonder skuldgevoel ander se lewens vir homself vat? Hoekom verdien ’n man soos my pa die lewe? Vanaand was weer een van daardie aande. Een vol drank, vol woede, vol ... As alkohol ’n persoon was, was hy en my pa ongetwyfeld beste vriende. Hy sou vroegaand begin as sy vriend, maar sou dieper die nag in verander tot die stem in sy oor wat hom motiveer om meer en harder houe op my maer lyf te laat reën. En om dieper te sny. Alhoewel ek vyftien is en al honderde kere moes uitmaak wat hy in “sy staat” sê, het ek vanaand weereens gesukkel om te verstaan wat hy mompel as hy die huis ingestrompel kom. Die slae en beledigings is heel eenvoudig om te verstaan: Ek is sy nikswerd, inwonende slaansak en “daar is niks wat jy daaraan kan doen nie”. Hy het nog altyd bravade en dapperheid verpes. Hy sien dit as ’n siekte wat “uitgebliksem” moet word. My ma was altyd die dapper een. Die een wat my probeer beskerm het teen sy haakhoue, sy messe en sy vlymskerp beledigings. Sy het uiteindelik die prys betaal nadat sy een keer te veel vir my opgekom het en sy volle wraak oor haar laat uitspoel het. Ek was twaalf. Van toe af was daar nog net die een polisieman wat in die pad gekom het tussen my en hom. Tot vanaand. Vanaand het ek self daardie pad gekruis. Ek het stil na die bank gesluip waar hy semibewusteloos gelê het, ’n gelaaide rewolwer in my hand en my stukkende hart wat kliphard teen my bors slaan. Sonder skuldgevoelens – en sonder om te twyfel – het ek die bloed uit my oë gevee ... en ’n man soos my pa geraak. EMILE SCRIBA (12D)

95

BOISHAAI 151 YEARS

Made with FlippingBook - professional solution for displaying marketing and sales documents online