BOISHAAIER 2015
KULTUUR
PIEKNIEKKONSERT Ons jaarlikse piekniekkonsert, met die tema “Latin Nights”, was weer eens ’n groot sukses. Hierdie jaar het die wind en weer besluit om saam te speel en dit was ’n wonderlike somersaand. Die aand se verrigtinge het begin met ons eie mnr. Van Staden en sy medeviolis, Talisa Symons. Hulle het lekker agtergrondmusiek gespeel terwyl die piekniekgangers smul aan hulle eetgoed. Die leerders het uitstekend gevaar en dit was wonderlik om die manne te sien optree. Die program het uit al die musiek-as-vakleerders bestaan aangesien hulle deelname een van hulle verpligte opdragte vir die jaar vorm. Cantare, die Blaasorkes en die Drumline het ook gespeel en dit is weer eens bewys dat HJS beslis balans bied!
MUSIEKFEES Vanjaar se musiekfees was weer eens ’n reusesukses en ons was bevoorreg om saam met uitstekende orkeste musiek te maak. Die skool se Drumline het die verrigtinge begin en het almal oudergewoonte met hulle spel beïndruk. Ons eie blaasorkes het eerste gespeel en hulle Santana ‘hits’ het almal se voete laat beweeg. Cantare het hierna opgetree en almal net weer gewys waarom hulle vanjaar ATKV se afdeling vir nie-ervare kore gewen het. Windworx Simfoniese Blaasorkes, wat ’n semi-professionele orkes is, het ook weer uitstekend gespeel en was beslis ’n inspirasie vir al die jong musikante. Die aand is afgesluit met ’n massa-orkeswerk.
CHRISTMAS IN THE CELLAR Die musiekdepartement het hulle jaar op kleurryke wyse afgesluit tydens ’n heerlike Kerskonsert in Simonsvlei se kelder – kompleet met die vate wat rondom die gaste staan! Ons was bevoorreg om Gimnasium se koor as gaste te ontvang, en die gehoor is deur ’n pragtige massa-item deur Cantare en die Gimmies geïnspireer. Daarna was dit die beurt van ons solo-kunstenaars, voordat die orkes die aand afgesluit het met ou, bekende Christmas Carols. Tussendeur het die gehoor ook Kersliedere gesing, begelei deur ons eie mnr. Van Hansen. Dit was in alle opsigte ’n sielsverrykende aand gevul met vreugde en nostalgie. KULTUURKAMP
66
Made with FlippingBook - Online magazine maker