BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE WYNBEDRYF

Boor (B): Gesteentes verskil aansienlik in B-inhoud, met die bekendste B-bevattende minerale boraks en toermalyn. Boraks word veral in sedimentêre gesteentes en in soutpanne aangetref, en toermalyn in die Kaapse graniete. In die grond kom B geassosieerd met mikas, klei en veral seskwioksiede voor, terwyl die organiese fraksie ook betekenisvolle B-inhoude kan hê. Die presiese rol van B in plantweefsel is nog nie volledig bewys nie, maar die fisiologiese gevolge van ’n tekort is goed gedokumenteer. Boor speel ’n rol by selverdeling, die omsetting van suiker na stysel en die waterverhoudings van plante. ’n B-tekort gaan gepaard met uitswel van protoplasma, wat die bars van selle tot gevolg het. Dit is betrokke by die sintese van ouksien en verseker normale stuifmeelontwikkeling en -ontkieming. ’n B-gebrek veroorsaak gevolg lik versteurde groei en verhoed kiembuisontwikkeling. Die grense van voldoende en gebrekkige voorsiening van B lê baie na aan mekaar. Boortekorte word algemeen op suur, sanderige gronde verwag. Boor word met warm water uit grond geëkstraheer en vir gronde met ’n pH KCl van tussen 5.0 en 6.5, behoort die B-inhoud minstens 0.3 mg.kg -1 te beloop (sien Tabel 5 in Hoofstuk 3). Boortekortsimptome by wingerd is groeipunte wat abnormaal ontwikkel, met kort, ‘sig-sag’ internodiums, apikale blare met ’n waaieragtige voorkoms wat aan virusinfeksie of mytskade herinner, vergrote blaarsteelsinusse, gepaard met tussennerfse chlorotiese vergeling, simptome wat sterk aan ’n Zn-gebrek herinner. Ouer blare toon oneweredige chlorotiese vlekke en algemene tussen nerfse vergeling, met blaarrande wat met verdrag nekroties raak. Dit het voorts millerandage trosse (klein, pitlose korrels) tot gevolg, met nekrotiese sones binne-in die korrels, gepaard met ’n loodgans-voorkoms van die korrelskil. Ander simptome is nekrotiese kolle of ringe op rankies en trosstingels (Fig. 25). Boortoksisiteite word soms aangetref, met simptome wat in baie opsigte met dié van tekorte ooreenstem. Dit het dun lote met sterk laterale groei en gevolg lik ’n bossie-agtige voorkoms tot gevolg. Die oormaat B neig om in blaarrande te konsentreer, waarvolgens die groei van die rande van apikale blare staak en blaartande nie ontwikkel nie, terwyl die middeldele voortgroei sodat die blaar na onder krul en ’n bebobbelde gladderand voorkoms het (Fig. 26). Op ouer blare ontwikkel nekrotiese spikkels en, soortgelyk aan ’n B-tekort, word afloop en millerandage-agtige korrels veroorsaak.

5

69

Made with FlippingBook Annual report maker