BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE WYNBEDRYF

Sink (Zn) Plante neem sink as Zn 2+ op, maar dit kan ook as chelate opgeneem word deur die wortels, blare en bas van stokke. Dit is die metaalkomponent en aktiveerder van verskeie ensiemsisteme. ’n Verskeidenheid dehidrogenase-, anhidrase-, proteïenase- en peptidasesisteme is bevind om van Zn afhanklik te wees. Dit is essensieel t.o.v. koolhidraat-, proteïen- en vetmetabolisme en speel ook ’n rol in die vorming van ouksiene. Sink kom voor in verskeie gesteentes en Zn-bevattende minerale. Deur ver wering word Zn 2+ vrygestel, wat dan aan die grondkolloïedes geadsorbeer word en in ewewig met die grondoplossing-ione verkeer. Daar is egter geen verband tussen die totale Zn-inhoud van grond en die toeganklikheid daarvan vir plante nie. Die toeganklikheid van Zn neem af met toenemende grond-pH, oormatige fosfaattoedienings en ook weens ’n absolute tekort in sanderige grond wees uitloging. Daar is ook gevind dat op die hoogsverweerde, suur berghanggrond op graniet in die Stellenbosch-omgewing, Zn-tekorte soms voorkom. Sink word, soos Mn, m.b.v. EDTA uit grondmonsters geëkstraheer en vir gronde met ’n pH KCl van tussen 5.0 en 6.5, behoort die Zn-inhoud minstens 0.5 mg.kg -1 te beloop (sien Tabel 5 in Hoofstuk 3). Vir Zn-aanvulling in die grond, kan 15 kg/ha -1 Zn-sulfaat in oplossing op die bankies of deur die besproeiingstelsel in bestaande wingerde en by nuwe aanplantings op die toekomstige stokrysone eweredig toegedien word. ’n Tekort aan Zn word gemanifesteer deur abnormale groei en ernstige effekte op trosontwikkeling. Tekortsimptome verskyn eerste op apikale blare as al gemene tussennerfse chlorose, vergelykbaar met dié van Mn. Blare bly klein (bekend as kleinblaar-simptoom), die blaarsteelsinushoek vergroot en interno dia is kort, wat tot ’n roset-voorkoms (bekend as heksebesem) aanleiding gee (Fig. 23). Korrels speen af en trosse is gevolglik strengelrig, met korrelgrootte wat varieer deurdat dit min of geen pitte bevat nie en ook neig om hard en groen te bly. Sommige kultivars, soos o.a. die muskaattipes, is baie gevoelig vir Zn-tekorte en trosse kan geaffekteer word alvorens blaarsimptome sigbaar is. Die norme vir die Zn-inhoude van wingerdblaarskywe en -stele verskyn in Tabel 16.

5

64

Made with FlippingBook Annual report maker