BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE WYNBEDRYF

MIKRO- OF SPOORELEMENTE Elemente in hierdie groep wat noodsaaklik is vir plantegroei, is yster (Fe), mangaan (Mn), sink (Zn), koper (Cu), boor (B), molibdeen (Mo) en chloor (Cl). Yster (Fe) Die belangrikste funksie van Fe is as energieverskaffer in redoksreaksie- ensiemsisteme. Alhoewel dit nie deel uitmaak van die molekuul nie, is Fe essensieel vir die vorming van chlorofil. Dit word as die ferro- of ferri-ioon of as sintetiese of natuurlike chelate opgeneem, maar om in die plant fisiologies aktief te wees, moet Fe minstens gedeeltelik in gereduseerde vorm wees. Meeste gesteentes bevat volop Fe, met uitsondering van kalk- en sommige sandstene, gevolglik is die Fe-inhoud van meeste gronde ook hoog. Daar is egter geen verband tussen totale Fe-inhoud van grond en die toeganklikheid daarvan vir plante nie. Die teenwoordigheid van kalk in grond (hoë pH), ge paard met koel, nat toestande, kan aanleiding gee tot ophoping van bikarbo naatione, wat direk in die grond of indirek in die stok die oplosbaarheid van Fe benadeel. In Europa, waar wingerd algemeen op gronde met vry kalk verbou word en dikwels onderhewig is aan kalk-geïnduseerde Fe-tekorte (chlorose), word die sg. ‘aktiewe kalk’ van die grond bepaal ten einde ’n ingeligte keuse te kan maak oor ’n geskikte onderstok in terme van die verdraagsaamheid daar van teenoor kalk, oftewel, Fe-chlorose. Hierdie analise kan verder aangevul word deur terselfdetyd ook die toeganklike Fe te bepaal en dan gekombineerd met die aktiewe kalk ’n Fe-chlorose-potensiaalindeks vir die grond te bereken. Vir Suid-Afrikaanse wingerdgronde word die bepaling van ‘toeganklike’ Fe as onnodig beskou deurdat die betekenis daarvan t.o.v. Fe-voorsiening aan die stok nie bekend is nie. Aangesien Fe so onbeweeglik in die plant en die vorm waarin dit voorkom deurslaggewend is, kan chlorotiese blare selfs meer Fe as gesonde blare bevat. Blaaranalise vir Fe is dus van twyfelagtige waarde. Die kenmerkendste simptoom van ’n Fe-tekort is algemene tussennerfse chlo rose (vergeling) van blare, eerste op die jonger blare, met totaal vergeelde, amper albinoagtige blare in akute gevalle (Fig. 19). In laasgenoemde geval verbruin die blare maklik weens sonbrand, val later af, die ontblaarde lote sterf terug en sylote ontwikkel wat die stok ’n bossie-agtige voorkoms gee. Die oes verminder dan drasties en die stok kan selfs doodgaan.

5

59

Made with FlippingBook Annual report maker