’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
SWAMSIEKTES Swamsiektes geassosieerd met hout- en wortelverrotting/afsterwing 2.7.1
Eutypa-terugsterwing (tandpyn) Tandpyngeassosieerde terugsterwing (veral problematies in wingerde ouer as 10 jaar) word gekenmerk deur die ontwikkeling van kortlittige lootjies met klein, halfdeurskynende, liggroen tot liggeel blaartjies (soms met nekrotiese blaarrande) in bossieagtige formaat op een of verskeie arms (bosstokke) of kordonne (opgeleide stokke) (Foto’s 100, 101, 102, 104 & 105). Normaalweg word geen trosse gevorm nie en word ondervind dat blomtrosse (indien dit sou voorkom) óf na blomtyd verdroog en afsterf óf in uiters seldsame gevalle wel tot korrelontwikkeling mag bydra waar beide groot en klein korrels in los trosse voorkom. Tandpyn word gewoonlik vereenselwig met ’n geleidelike verspreiding binne en agteruitgang van stokke – wat uiteindelik tot totale afsterwing daarvan mag bydra (Foto’s 106, 107, 108 & 109). Dwarssnitte van geïnfekteerde arms openbaar karakteristieke verrottingspatrone wat meestal vereenselwig word met ’n Vvormige voorkoms van nekrotiese hout wat vanaf die bas tot in die kernhout strek en ’n duidelike begrensing met gesonde hout weerspieël (Foto 110). Hierdie dooie hout is hard in teenstelling met ander tipes houtverrotting wat gewoonlik sag is. Wanneer tandpynagtige verskynsels vir die eerste keer opgemerk word (Foto 111), kan dit maklik met ander oorsake verwar word en word die inwin van deskundige advies aanbeveel – selfs al sou houtgedeeltes (Foto 112) aanduidend van die toetrede van Eutypaterugsterwing mag wees. Phytophthora-wortelverrotting/afsterwing Alhoewel Phytophthorawortelverrotting in volgroeide wingerde aangetref kan word, is dit veral in jong aanplantings, asook in kwekerye van ’n werklik problematiese aard. Aangesien swamspore vry water vir vinnige vermeerdering benodig (om sodoende tot mildelike wortel infeksies in staat te wees), word die voorkoms van hierdie verskynsel hoofsaaklik met vlak gronde wat maklik nat word of versuip of vir lang periodes gedurende die groeiseisoen nat bly, geassosieer. Die eerste visuele waarnemings by geïnfekteerde stokke is weerspieëlend daarvan dat blare ’n bleker en soms verlepte voorkoms openbaar (veral in die ongeënte staat in kwekerye) (Foto 113). Hierdie ligte kleur verander geleidelik tot bleekgroen, dan na geel en uiteindelik tot bruin met die afsterwing van stokke (Foto’s 114, 115 & 116). In die meeste gevalle vind algehele afsterwing binne ’n tydsbestek van slegs drie weke plaas, waarna dooie blare en trosse vir lang periodes aan stokke behoue bly (Foto 117). Dit dien daarop gelet te word dat geen kenmerkende randskroei van blare, soos by droogte of brak, op enige stadium voorkom nie. Wortels van geïnfekteerde, dooie stokke vertoon verrot – en in meeste gevalle dood – met ’n blouswart verkleuring (Foto 118).
70 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator