’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
SWAMSIEKTES Swartroes (antraknose) 2.4
A lhoewel die aanslag van swartroes op vatbare druifkultivars in WesKaapland sedert 1968 (met die aanvang van gereelde bespuitings teen donsskimmel) feitlik tot stilstand gekom het, bly dit van belang om op hoogte van karakteristieke kenmerke daarvan te bly – veral weens die vernietigende uitwerking wat op stokke met gepaardgaande oesverliese uitgeoefen kan word. Uiteraard is swartroes steeds problematies in veral die somerreënvalgebiede. Oorwintering geskied op geïnfekteerde hout – wat weer eens die noodsaak beklemtoon dat sodanige materiaal tydens snoei uit wingerde verwyder word. Tydens die lente wanneer klam, warmer toestande voorkom, word spore vrygestel wat tot infeksie van alle groen dele van stokke in staat is. Volgens die literatuur versprei swartroes stadig vanaf een stok na ’n ander aangesien spoorverspreiding hoofsaaklik deur water geskied. Soortgelyk aan donsskimmel vereis spore vrywater vir ontkieming, wat grootliks deur reën, besproeiing, dou en mistige weer daargestel word. Hoewel swartroes (soos streepvlek) dikwels as ’n minder ernstige probleem beskou word, kan ernstige skade nogtans aangerig word – veral tydens buitengewoon nat lentes en in gevalle waar dit reeds voorheen voorgekom het. Derhalwe is dit ook hier van belang dat deskundige advies in terme van suksesvolle voorkomings en beheerpraktyke ingewin word. Tiperend van swartroesinfeksie is die onreëlmatige verskyning op blare van liggrys vlekke (groter as dié van streepvlek) met rooibruin tot pers rande (Foto 63), wat in die geval van ouer blare aansienlike groottes met ’n dikwels kenmerkende ronde voorkoms kan bereik (Foto 64). By blaarstele en nerwe is die vlekke aansienlik kleiner en meer langwerpig (Foto 65). Skeuring en uitval van dooie weefsel uit die vlekke is baie kenmerkend, waardeur blare ’n stukkende (verflenterde) voorkoms aanneem – veral waar vlekke naby mekaar of aaneengeskakel voorkom (Foto 66). Op lote is vlekke aanvanklik klein en donkerbruin tot swart van kleur, gesonke in die middel met effens verhewe rande (Foto 67). Met verloop van tyd word vlekke groter, sluit by mekaar aan en is aanleidend tot inkrimping en vernietiging van weefsel waardeur lote gedood word (Foto’s 68 & 69). Sulke lote vertoon uiteindelik swart, droog en beskik oor ’n harde tekstuur. Alhoewel tipiese swartroesvlekke minder geaksentueerd op tros en korrelstele voorkom, kan jong trossies (selfs vóór blom) totaal inkrimp en afsterf (Foto 70). Ná set en korrelvergroting kom tipiese donkerbruin tot swart vlekke op trosstele voor (Foto 71) wat later tot die afsterf van die totale tros of slegs gedeeltes daarvan (wat deur die geïnfekteerde steel gevoed moes word), aanleiding kan gee. Die voorkoms van ronde vlekke met liggrys middelste gedeeltes en omkring deur donker rande is baie kenmerkend betreffende infeksie van ouer korrels (Foto 72). Hierdie verskynsel het die gepaste benaming van “birdseye rot” aan die siekte verleen.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 47
Made with FlippingBook Ebook Creator