’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
SWAMSIEKTES Streepvlek 2.3
I n teenstelling met oïdium en donsskimmel is die voorkoms van streepvlek by vatbare kultivars hoofsaaklik tot Wes-Kaapland beperk, waar dit gewoonlik met die aanbreek en verloop van die lente – dikwels in ’n sporadiese formaat en onder nat toestande – sy aanslag begin toon. Vanweë droë lentes word streepvlek in die somerreënvalgebiede normaalweg nie as ’n ernstige probleem beskou nie. Oorwintering geskied deur die vorming van vrugliggame in die basgedeeltes van aangetaste eenjarige of ouer hout of op dooie plantmateriaal wat op die grond lê. Ná benatting van hierdie vrugliggame deur reën, besproeiing, dou of mistige weer, word spore vrygestel wat op vatbare wingerdorgane beland en suksesvolle ontkieming onder toestande van ’n hoë relatiewe humiditeit openbaar. Alhoewel streepvlek dikwels as ’n minder ernstige probleem beskou word, kan dit vanweë skade wat onder bevorderlike toestande vir infeksie opgedoen word (onder andere ver- dwergde lootgroei en die doding van oë en lote), redelik spoedig in ’n akute probleem ontwikkel. Derhalwe is dit noodsaaklik dat deskundige advies in terme van suksesvolle beheerprogramme – veral oor die langer termyn – ingewin word. Die eerste tekens van streepvlek is gewoonlik op basale internodia van jong lote waarneembaar en word geassosieer met donkerbruin, lensvormige vlekke wat namate die vergroting daarvan tot lengtebarste, swart verkleuring en uitdroging van die weefsel aanleiding gee (Foto’s 52, 53 & 54). Normaalweg is hierdie barste redelik vlak en strek slegs so diep as die bas. Soms, veral tydens voortdurende nat toestande, is letsels as individuele entiteite minder opsigtelik, terwyl feitlik die hele lootomtrek of groot gedeeltes daarvan deur donkerbruin tot swart weefselverkleuring verteenwoordig word (Foto 55). Wanneer klimaatstoestande tot laat in die seisoen vir infeksie bevorderlik is, kan lote erg aangetas en verdwerg word, met gepaardgaande doding van oë en selfs lote (Foto 56), vandaar die Engelse benaming “dead-arm”. Soortgelyke letsels as dié op lote kom op trosstele voor, wat ook tot die ragis en ander dele van die trosraamwerk versprei (Foto 57). Sodanige situasies is gewoonlik aanleidend daartoe dat jong korrels van sekere trosgedeeltes swart verkleur en verdroog. Geïnfekteerde blaarstele en -hoofnerwe word ook aan letselvorming onderwerp, wat dikwels daartoe lei dat vaatbundels aangetas word en sekere blaardele aan uitdroging onderwerp word (Foto 58). Die voorkoms van streepvlek op blare word geassosieer met klein, swart stippels (met liggeel/wit sirkels omring) wat, indien talryk, ’n gekroesde en abnormale voorkoms aan bostaande verleen (Foto’s 59, 60 & 61). Blare aan die basale internodia word die ergste aangetas met ’n vermindering in intensiteit na die groeipunt van die loot (Foto 62). Die verskynsel dat apikale blare gesond vertoon, lei tot die valse illusie dat geïnfekteerde stokke met die verloop van die seisoen van die siekte genees is. Sou gunstige en bevorderlike infeksietoestande egter later weer opduik, word die uitdrukking van kenmerkende siektetekens op hoof- en sylote weer hervat wat bydraend tot afsterwing van toepaslike organe aanleiding kan gee.
40 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Made with FlippingBook Ebook Creator