’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
INLEIDING
O ptimale inwingerd prestasie van individuele stokke, gepaardgaande met die volhoubare en winsgewende verbouing daarvan, toon ’n noue verwantskap met die gesondheidstoestand van die plantmateriaal sowel as met die deurlopende en korrekte toepassing van praktyke wat ten beste aan die verbouingsvoorkeure en behoeftes van die betrokke kultivars in verskillende streke voldoen. Die toetrede en verdere ontwikkeling van enige abnor maliteit(e) – hetsy geassosieer met óf biotiese (wingerdsiektes en plae) en abiotiese (omgewingstoestande) faktore, óf met onoordeelkundige/foutiewelike vestigings, stokontwikkelings en deurlopende verbouingspraktyke – sal byna sonder uitsondering daartoe bydra dat die produktiewe lewensverwagting van stokke oor die kort of langer termyn nadelig beïnvloed sal word. In hierdie boek word wingerdabnormaliteite – soos gebaseer op die voorkoms en/of oorsake daarvan in terme van spesifieke probleemsituasies – in die volgende kategorieë ingedeel, naamlik: (i) plantmateriaalprobleme; (ii) swamsiektes; (iii) bakteriese siektes; (iv) virus en virusagtige siektes; (v) wingerdplae; (vi) abiotiese abnormaliteite; (vii) genetiese afwykings; (viii) voedingselementtekorte en toksisiteite; (ix) onkruiddoderfitotoksisiteit; (x) onoordeelkundige/foutiewelike verbouingspraktyke/aksies en (xi) varia. Met bogenoemde as agtergrond is kernagtige beskrywings betreffende die visuele voorkoms van spesifieke verskynsels hoofsaaklik op verbandhoudende literatuur (met klem op teksboeke) gebaseer (Perold, 1926; Du Plessis, 1947; Winkler et al., 1974; Bovey et al., 1980; De Klerk, 1981; Marais, 1981; Saayman, 1981; Smit, 1981; Galet, 1978, 1995; Ferreira & Venter, 1996; Bailey et al., 1998). Aanvullend hiertoe word abnormaliteitsingrepe met fotomateriaal uitgebeeld – ten einde opsigself met kriptiese, dog basiese onderskrifte by individuele voorbeelde toegelig te kon word. Alhoewel weens die omvangryke uiteenlopendheid daarvan hoofsaaklik op die voorkoms en beskrywing van die mees tipiese abnormaliteite gefokus word, is daadwerklike pogings aangewend om waar toepaslik ook minder bekende verskynsels, wat by uitsondering mag voorkom, aan die orde te stel. Aangesien in hierdie aanbieding hoofsaaklik op die visuele voorkoms/waarnemings van spesifieke abnormaliteite gekonsentreer word, is beskrywings (behalwe in uitsonderlike en toepaslike gevalle) van: (i) wetenskaplike benamings van veroorsakende organismes en die lewensiklusse daarvan; (ii) spesifieke siekte en plaagbeheerprogramme en (iii) die meganismes van werking van beheer, voorkomings en uitwissingsmiddels, nie opgeneem nie. Aanvullend is dit van kardinale belang dat, indien daar enige twyfel oor die identifikasie van ’n probleem op grond van visuele voorkoms bestaan, vakkundiges in sodanige gevalle graadpleeg moet word ter bevestiging. Die oorkoepelende oogmerk berus daarop om op grond van die korrekte identifisering van ’n probleem, belanghebbendes in die bedryf binne die vermoë te plaas om tydig en effektief in terme van beheer en/of regstellende strategieë op te tree.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 3
Made with FlippingBook Ebook Creator